OMGEWINGSNUUS - Gemeenskappe van regoor Kouga het Saterdag 11 Julie in Jeffreysbaai byeengekom om hul teenkanting uit te spreek teen Eskom se voorgestelde 5 200 MW-kernkragstasie by Thyspunt.
Thyspunt is 'n rotsagtige kusgebied in die Oos-Kaap tussen Oesterbaai en St. Francisbaai.
Tydens 'n Speak Out-geleentheid wat deur Earthlife Africa Johannesburg aangebied is, het talle inwoners, vissers, omgewingsorganisasies, erfenisgroepe en gemeenskapsleiers hul vrese oor die kernkragstasie uitgespreek.
Hulle is dit eens dat die ontwikkeling plaaslike bestaansmiddele, biodiversiteit, kulturele erfenis, openbare veiligheid en die streeksekonomie kan bedreig, terwyl dit ook 'n aansienlike finansiële las op alle Suid-Afrikaners kan plaas.
"Die mense wat hier woon, verstaan presies wat op die spel is. Baie van hulle staan al byna 20 jaar lank hierdie ontwikkeling teë," het Makoma Lekalakala, direkteur van Earthlife Africa Johannesburg, gesê.
"Deur die loop van die dag het ons dieselfde boodskap gehoor van kleinskaalse vissers wat hul bestaansmiddele wil beskerm, verteenwoordigers van die Eerste Nasies (Khoisan) wat hul erfenis wil bewaar, natuurbewaarders, asook inwoners en gemeenskapsorganisasies wat bekommerd is oor die omgewing en die regte van toekomstige geslagte."
Thyspunt die gunsteling
Eskom oorweeg twee terreine vir die beoogde 5 200 MW-kernkragstasie: Bantamsklip naby Gansbaai in die Wes-Kaap of Thyspunt.
'n Konsep-omgewingsverslag beveel Thyspunt as die voorkeurterrein aan en voer aan dat dit die ideale ligging is omdat dit naby aan bestaande elektrisiteitsnetwerke is en gunstige topografiese eienskappe het.
Eskom besit reeds beide die Thyspunt- en Bantamsklip-terreine en beklemtoon dat kernenergie 'n belangrike deel van Suid-Afrika se energiemengsel is.
Vir baie inwoners verteenwoordig die voorstel egter veel meer as net nog 'n energieprojek.
Hulle sê Thyspunt huisves biodiversiteit van wêreldbelang, onvervangbare Khoisan-erfenis en 'n florerende kusekonomie wat op vissery, toerisme en landbou gegrond is.
Konstruksie se impak
Sprekers by die Jeffreysbaai-byeenkoms het gewaarsku dat die storting van miljoene kubieke meter uitgrawingsmateriaal in die see tydens konstruksie sensitiewe chokka-broeigebiede permanent kan beskadig, seestrome kan verander en die internasionaal bekende branders kan bedreig wat besoekers van regoor die wêreld lok.
Inwoners het ook die beloftes bevraagteken dat die projek werkgeleenthede sal skep.
Hulle het aangevoer dat enige werk tydens die boufase tydelik sal wees, terwyl die langtermyngevolge vir bestaande bedrywe permanent kan wees.
Hulle sê ook die instroming van duisende werkers van buite geweldige druk op reeds oorbelaste behuising, gesondheidsorg, watervoorsiening en munisipale dienste sal plaas.
Veiligheidskwessies
'n Groot deel van die bespreking het op veiligheid en noodbeplanning gefokus.
Inwoners het bevraagteken of ontruiming moontlik sou wees indien 'n ernstige voorval sou plaasvind. Hulle het gewys op beperkte padtoegang, die gebied se groeiende vakansiebevolking en die voortgesette padwerke op die N2.
Lydia Peterson, gemeenskapsorganiseerder van die Southern African Faith Communities' Environment Institute (SAFCEI), het gesê gemeenskappe word gevra om enorme risiko's te aanvaar sonder duidelike antwoorde.
"Mense word dikwels oorweldig deur tegniese taal, maar die vrae is eintlik baie eenvoudig. Is dit veilig? Kan ons land dit bekostig? Wat gebeur met die kernafval? Wie dra die risiko as iets verkeerd loop?"
Die geleentheid is aangebied deur Earthlife Africa.
Ander kragopsies
Omgewingsorganisasies het die behoefte aan 'n groot, gesentraliseerde kernkragaanleg bevraagteken in 'n tyd waarin energiesisteme wêreldwyd toenemend na hernubare en gedesentraliseerde opwekking beweeg.
Hulle het aangevoer dat die voorgestelde aanleg teen 'n enorme finansiële koste gebou sal word, terwyl dit relatief min tot die nasionale kragnetwerk sal bydra in vergelyking met die risiko's wat met die bou, bedryf en langtermynbestuur van kernafval gepaardgaan.
Gary Koekemoer van die Wildlife and Environment Society of South Africa (Wessa) het gesê die voorstel slaag nie die toets van volhoubare ontwikkeling nie.
"Thyspunt is een van Suid-Afrika se belangrikste natuurlike en kulturele landskappe. Dit beskerm onvervangbare biodiversiteit, antieke erfenis en een van die land se laaste ongerepte duineveld-stelsels."
'Ons wil verstaan'
Trudi Malan van die Thyspunt Alliance het gesê plaaslike inwoners kan dit nie bekostig om beloftes sonder praktiese verbintenisse te aanvaar nie.
"Mense word vertel daar sal werk en ontwikkeling wees, maar gemeenskappe het al voorheen sulke beloftes gehoor. As daar verwag word dat 1000de werkers hierheen sal kom, waar is die skole, hospitale, behuising en paaie om hulle te ondersteun?"
Inwoners het herhaaldelik teruggekeer na die kwessie van openbare deelname en aangevoer dat gemeenskappe wat regstreeks deur die voorstel geraak word, 'n betekenisvolle rol moet speel in die bepaling van hul toekoms.
Baie het gesê tegniese verslae en ingewikkelde beplanningsprosesse mag nooit struikelblokke word wat gewone mense verhinder om te verstaan hoe besluite hul lewens, bestaansmiddele en omgewing kan beïnvloed nie.
Min tyd en groot struikelblokke
As Eskom wil hê die elektrisiteit uit sy nuwe kernkragprogram - insluitend 'n 4 000 MW-kernkragstasie by Duynefontein naby Koeberg in die Wes-Kaap - moet teen 2039 beskikbaar wees soos beplan, sal bouwerk teen die einde van hierdie dekade moet begin.
Maar met triljoene rand wat benodig word, is daar behalwe vir die teenkanting vanaf omgewingsaktiviste en plaaslike inwoners, ander reusestruikelblokke wat Eskom en die regering nog moet oorkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’