KNYSNA NUUS - Jare se harde werk, deursettingsvermoë en 'n passie vir onderwys is beloon toe Thinus Opperman, Concordia Primêr se skoolhoof, tydens die Nasionale Onderwyserstoekennings as naaswenner in die gesogte uitnemendheid in laerskoolleierskap-kategorie aangewys is.
Vir Opperman is die erkenning nie net 'n persoonlike prestasie nie, maar 'n huldeblyk aan almal wat hom deur die jare ondersteun het.
"Dit is die resultaat van baie jare se ondervinding en die geleenthede wat die onderwys my gebied het om te ontwikkel," sê hy. "Ek kon dit nooit bereik sonder die ondersteuning van my personeel, die gemeenskap en veral my vrou, Annelise, nie."
Hy skryf sy sukses toe aan waardes soos regverdigheid, konsekwentheid en vertroue - nie net in sy personeel nie, maar ook in sy Skepper.
Opperman sê die erkenning behoort eintlik aan die hele skoolgemeenskap.
"Ek het hoofsaaklik vir die personeel ingeskryf. Hulle werk ongelooflik hard en gun net die beste vir ons leerders en gemeenskap. Concordia Primêr is nie sommer net nóg 'n skool nie; ons streef na uitnemendheid op verskeie terreine."
Die nuus is met groot trots deur die skool se personeel, ouers en leerders ontvang. Op Facebook het die skool geskryf dat hy ongelooflik trots op sy hoof is en dankbaar vir die verskil wat hy daagliks in die lewens van sy leerders en personeel maak.
Vir Opperman is die prestasie egter ook 'n bewys van hoe ver die skool gekom het. Concordia Primêr was vir baie jare in tydelike geboue gehuisves en het min of geen fasiliteite vir buitemuurse aktiwiteite gehad.
As 'n kwintiel 2-geenfooiskool moes die personeel kreatief dink en hard werk om ekstra fondse in te samel vir die ontwikkeling van hul leerders.
"Daardie omstandighede het my gemotiveer om meer innoverend te wees. Vandag is ons dankbaar dat ons die skool se interne fasiliteite aansienlik kon uitbrei."
Hoewel hy trots is op die erkenning, kyk Opperman reeds vorentoe. Sy droom is om Concordia Primêr verder te ontwikkel, veral op akademiese gebied, terwyl die skool ook 'n betekenisvolle rol in leerders se sosiale ontwikkeling bly speel.
Aan jong onderwysers en toekomstige skoolhoofde het hy 'n eenvoudige maar kragtige boodskap:
"Doen vir ander se kinders wat jy vir jou eie kinders sou gun. Maak jouself onmisbaar by jou skool deur dinge reg te doen en hard te werk."
Vir die Concordia-skoolgemeenskap is Opperman se nasionale erkenning meer as net 'n persoonlike toekenning - dit is bevestiging dat toewyding, spanwerk en 'n onwrikbare geloof in kinders se potensiaal selfs onder moeilike omstandighede tot uitnemendheid kan lei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’