Update
KNYSNA NUUS - Sy was 'n jongeling wat deur baie bewonder is - nie net vir haar vegtersgees en krag nie, maar ook vir haar lewenslus en sprankelende persoonlikheid, selfs te midde van 'n stryd teen 'n lewensgevaarlike siekte.
Die 15-jarige Rowena Simmers van Hornlee het Woensdag 11 November haar sewe maande lange stryd teen akute myeloïede leukemie (AML) verloor, wat haar familie, vriende en almal wat haar herstel met hoop en gebede gevolg het in rou gedompel het.
Rowena het in September haar 15de verjaarsdag saam met familie en vriende gevier. Haar ma, Yolanda Oelf, is verpletter deur die verlies van haar dogter, wat volgens haar steeds soveel gehad het om voor te leef.
Soos voorheen berig is Rowena in Mei vanjaar met AML gediagnoseer nadat sy skielik ernstig siek geword het.
Volgens Oelf het Rowena ná haar tweede chemoterapiebehandeling by Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad 'n ernstige infeksie opgedoen, wat haar toestand verder bemoeilik het. Die infeksie is later deur 'n velinfeksie gevolg.
Hoewel Rowena met antibiotika behandel is, het die dokters uiteindelik besluit dat verdere chemoterapie te gevaarlik sou wees weens die risiko wat dit vir haar lewe ingehou het.
Haar chemoterapie is gevolglik gestaak en die behandeling van die infeksie is voortgesit.
Die gesin het daarna 'n besonder moeilike tyd beleef, veral nadat hulle meegedeel is dat Rowena se toestand ongeneeslik was en hulle na 'n hospies verwys is.
Te midde van die hartseer het verskeie organisasies en individue hande gevat om Oelf se huis op te knap en dit leefbaar en veilig vir Rowena te maak. Die gemeenskap het gehoop dat sy haar tyd in 'n verbeterde omgewing sou kon deurbring.
Maar dié droom het nie gerealiseer nie.
"Sy het nog nie eers kans gehad om haar nuwe kamer te sien nie. Nie eers hoe die huis sou lyk ná die opknappings nie.
"My hart is stukkend. Hoe kan Wena my nou verlaat? Hoekom doen die Here dit?" het Oelf hartseer gesê.
Oelf het Rowena Maandag 10 November in die Knysna Hospitaal laat opneem omdat sy nie goed gelyk en gevoel het nie. Rowena het in die hospitaal gesterf, omring deur familie en geliefdes.
Oelf het gesê Rowena se heengaan laat 'n groot leemte by almal wat haar geken het en die afgelope maande saam met haar familie op haar herstel bly hoop het.
Die begrafnisreëlings sal bekend gemaak word sodra dit beskikbaar is.
Lees vorige artikels:
Rowena se kankerstryd neem ’n moeilike wending
Skoolster wil uitblink ondanks leukemie
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’