KNYSNA NUUS - Knysna het die afgelope paar jaar deur rowwe waters gegaan, en die gevolge is duidelik sigbaar. Om die dorp uit dié moeras te lig en dit weer as een van Suid-Afrika se voorste toerismebestemmings te vestig, gaan 'n enorme poging verg. En dit gaan nie oornag gebeur nie.
Só sê Pieter Bester, DA-wyksraadslid vir wyk 10, oor die pad vorentoe ná die onlangse plaaslike verkiesing. Volgens hom sal elke inwoner en onderneming in Knysna 'n rol moet speel om die dorp weer op koers te kry.
"Nie een mens of politieke party gaan dit op sy eie regkry nie. Ons sal móét saamwerk aan een gemeenskaplike doel: om Knysna weer 'n plek te maak wat toeriste lok eerder as afskrik. Ons sal almal skouer aan die wiel moet sit om die dorp te herbou en sy beeld weer blink te poets," sê Bester.
Hy haal 'n opmerking, wat die Sedgefield-belastingbetalersvereniging tydens 'n debat in aanloop tot die verkiesing in Sedgefield gemaak het, aan:
"Dit is nou tyd dat mense hul politieke T-hemde uittrek en aan die werk spring vir 'n beter Knysna. Die tyd om politieke verskille opsy te skuif, is nou." Bester meen hierdie opmerking wys dat inwoners deur samewerking baie kan bereik.
Hy beklemtoon ook die belang van samewerking met plaaslike groepe soos Revive Knysna en Keep Knysna Clean om momentum te bou en die dorp vorentoe te neem. Volgens hom is daar te lank toegelaat dat Knysna agteruitgaan.
Een van sy idees is 'n projek wat hy 'Pavement Praat' noem. Hy wil inwoners en sake-eienaars aanmoedig om verantwoordelikheid te aanvaar vir die sypaadjie en die gedeelte voor hul eiendomme deur dit daagliks skoon en netjies te hou. Selfs 'n vars lagie verf aan die voorkant van 'n gebou kan 'n verskil maak, sê hy.
"Ons kan nie met gevoude arms terugsit en alles aan die munisipaliteit oorlaat nie. Dit is onrealisties. Kom ons vat eerder hande en neem die dorp gesamentlik vorentoe. Elkeen moet verantwoordelikheid aanvaar om Knysna skoon en netjies te hou. Dit skep onmiddellik 'n positiewe indruk by mense wat die dorp besoek."
Bester het as wykskandidaat (wyk 10) 2 872 stemme gekry vir 'n stempersentasie van 83,81%. By twee stempunte in wyk 10 het die DA skoonskip gemaak.
By die Knysna-stadsaal het 1 959 mense (81,66%) vir die DA gestem en by die NG-kerksaal het die DA 3 812 stemme getrek vir 'n stempersentasie van 85,47%.
Bester het die politiek in 2020 betree as DA-kandidaat toe Peter Meyers bedank het. Hy begin nou sy tweede termyn as DA-wyksraadslid vir wyk 10.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’