KNYSNA NUUS - 'n Hoërisiko-infeksie het die kankerstryd van die 14-jarige Rowena Simmers van Hornlee in Knysna 'n dramatiese wending gegee, nadat haar chemoterapiebehandeling volgens haar ma gestaak is en sy tans aan huis in afsondering behandel word.
Rowena, wat vroeër vanjaar met myeloïede leukemie gediagnoseer is, het volgens haar ma, Yolanda Oelf, ná haar tweede chemoterapiebehandeling by Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad 'n ernstige infeksie opgedoen.
Oelf sê die infeksie het Rowena baie siek gemaak en is later deur 'n velinfeksie gevolg. Rowena is met antibiotika behandel, maar dokters het later besluit dat verdere chemoterapie te gevaarlik sou wees weens die risiko wat dit vir haar lewe inhou.
Volgens Oelf is die chemoterapie gevolglik gestaak, terwyl behandeling vir die infeksie voortgesit word. Sy sê Rowena is verlede Donderdag, 27 Augustus, na Knysna terugverwys vir verdere behandeling.
Volgens Oelf het dokters van Knysna Provinsiale Hospitaal na hul aankoms by die hospitaal op Vrydag 28 Augustus die gesin meegedeel dat Rowena weens die hoërisiko-infeksie nie in die hospitaal kon aanbly nie en dat haar behandeling tuis voortgesit moes word.
Oelf beweer dokters het haar ook meegedeel dat Rowena se vorm van akute myeloïede leukemie (AML) ongeneesbaar is en dat die gesin na 'n hospies verwys is. Sy sê sy hou egter vas aan haar geloof dat haar dogter hierdie stryd sal oorwin.
Maar die gesin staan nou voor 'n verdere uitdaging. Oelf sê hul eie huis is nie geskik vir Rowena se huidige toestand nie en dat hulle tans by 'n vriendin tuisgaan om die risiko van verdere infeksies te beperk.
'n Munisipale raadslid het volgens Oelf aangebied om met die opknapping van hul huis te help, maar sy weet nie wanneer die werk sal begin nie.
Soos voorheen berig, het Oelf haar werk bedank om voltyds na Rowena om te sien. Sy het tans geen inkomste nie en sê die gesin sukkel ook om in hul daaglikse behoeftes te voorsien.
Oelf doen daarom 'n nederige beroep op enige barmhartige Samaritaan wat bereid is om met die opknapping van hul huis of met noodsaaklike daaglikse benodigdhede te help.
Enigiemand wat wil help, kan Oelf by 073 033 5336 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’