KNYSNA NUUS - Die 14-jarige Rowena Simmers van Hornlee, Knysna, 'n gr. 9-leerder aan Knysna Sekondêre Skool en een van die skool se top 10 akademiese presteerders, is vasberade om haar tweedekwartaaleksamen af te lê, al beteken dit sy moet dit vanuit haar hospitaalbed doen.
Rowena is in Mei vanjaar met myeloïede leukemie gediagnoseer nadat sy skielik ernstig siek geword het.
Kort ná haar diagnose is sy na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas, waar sy tans intensiewe chemoterapie ontvang. Haar behandeling word noukeurig gemonitor, waarna die dokters sal bepaal of verdere beenmurgondersoeke en 'n moontlike beenmurgoorplanting nodig sal wees.
Skielike diagnose verander alles
Volgens Rowena se ma, Yolanda Oelf het haar dogter se gesondheidsprobleme skielik in Mei begin.
"Rowena het net nie lekker begin voel nie. Ons was eers by die hospitaal waar ons huis toe gestuur is met net pynpille. Toe ons die tweede keer teruggaan, het die dokter verdere toetse gedoen. Die volgende dag is sy per ambulans na George-hospitaal geneem waar hulle ontdek het dat sy leukemie het. Van daar is ons dadelik na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas."
Vir Oelf was die diagnose 'n geweldige skok. "Ek het nooit in my lewe gedink dat iets soos hierdie met een van my kinders sou gebeur nie."
Intense behandeling duur voort
Rowena ontvang tans 'n intensiewe chemoterapieprogram wat uit twee weke se behandeling, gevolg deur drie dae se rus, bestaan. Gedurende hierdie rusperiode kry haar liggaam kans om te herstel voordat die volgende behandelingsiklus begin.
Die dokters wag tans om te sien hoe haar liggaam op die chemoterapie reageer voordat verdere beenmurgtoetse gedoen word.
"Die dokters het gesê sy gaan waarskynlik nog baie siek word van die chemoterapie en sy sal moet aanhou veg. Ná die tweede chemoterapiesiklus sal hulle weer beenmurgtoetse doen om vas te stel of die behandeling werk en of die kankerselle verminder het," verduidelik Oelf.
'n Ma se opoffering
Sedert Rowena se opname het Oelf haar werk bedank om pal aan haar dogter se sy te wees. "Die ervaring is dag vir dag moeilik. Ons word gereeld van een saal na 'n ander verskuif. Party van die personeel maak dit maklik, maar ander se houding maak dit vir 'n mens baie moeilik."
Sy sê hoewel sy ander ouers ontmoet wie se kinders ook behandeling ontvang, bly dit emosioneel uitputtend. "Wanneer ek alleen is, verlang ek verskriklik huis toe."
Vasbeslote om haar skooljaar te voltooi
Ten spyte van die uitmergelende behan-deling bly Rowena se fokus op haar skoolwerk. As een van Knysna Sekondêre Skool se top 10 akademiese presteerders is sy vasbeslote om nie haar gr. 9-jaar te verloor of te moet herhaal nie.
Sy is bereid om haar eksamens gedurende volgende kwartaal vanuit die hospitaal af te lê indien haar skool haar die geleentheid bied.
Die hospitaal se onderwyseres is tans in gesprek met haar skool om die nodige reëlings te tref sodat sy 'n billike geleentheid kry om haar akademiese jaar suksesvol af te handel.
'n BackaBuddy-fondsinsamelingsveldtog is van stapel gestuur ten bate van Rowena se stryd teen leukemie. Donasies kan gemaak word by: www.backabuddy.co.za/campaign/rowena-simmers-leukemia-patient
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’