KNYSNA NUUS - 'Dinamiet kom in klein pakkies' is 'n gesegde wat die 23-jarige Jarryd Grootboom perfek beskryf.
Die jong man, afkomstig van Hornlee in Knysna, is in 2002 as een van Suid-Afrika se kleinste babas gebore en het teen alle verwagtinge oorleef.
Vandag is hy 'n onafhanklike volwassene met 'n vaste werk, 'n bestuurslisensie en sy eie motor - mylpale wat destyds ondenkbaar gelyk het.
Jarryd se verhaal het meer as twee dekades gelede landswyd aandag getrek toe hy uiters prematuur gebore is en net 410 gram geweeg het.
Die dokters was destyds onseker oor sy toekoms en het gewaarsku dat hy moontlik vir die res van sy lewe van sy ouers afhanklik sou wees.
Vandag vertel sy ma, Renee, met trots hoe haar seun alle verwagtinge oortref het.
"Dit is vir enige ouer 'n wonderlike gevoel om jou kind te sien werk, maar vir Jarryd is dit soveel meer as dit. Daar was 'n tyd toe dit gevoel het asof daar geen plekkie in die son vir hom sou wees nie. Nou is hy heeltemal onafhanklik, en ons is ongelooflik dankbaar," sê sy.
Volgens Renee het Jarryd al van sy eerste lewensdae af gewys dat hy hom nie sou laat onderkry nie.
"Die dokters het altyd gesê hy is 'n regte vegtertjie. Hy het ongelooflike deursettingsvermoë en gee nie maklik moed op nie."
Mylpale langs die pad
Vir sy ouers was dit een van die grootste oomblikke toe Jarryd as ereprefek én koshuisprefek by Carpe Diem Skool in George aangewys is. "Ons het nooit gedink hy sou so ver kom nie," vertel sy.
Nog 'n belangrike mylpaal was sy toetrede tot die werkswêreld.
Volgens Jarryd se pa, Jeremy, was Jarryd oorspronklik veronderstel om reeds in 2020 'n werkservarings- en -opleidingsprogram by Woolworths deur die Ukuwela-program van Carpe Diem te begin.
Jarryd Grootboom het by geboorte slegs 410 g geweeg en is ná 26 weke gebore. Hy was kleiner as ’n blok botter en is destyds as een van Suid-Afrika se kleinste premature babas wat oorleef het, bekend. Foto: Renee Grootboom
In 2023 het Woolworths weer die skool genader omdat hulle meer persone vir die program benodig het. Die Ukuwela-span van Carpe Diem het die geleentheid dadelik aangegryp en Jarryd vir die proses begin voorberei.
Die Grootboom-gesin tydens Jeremy Grootboom se aftredingseremonie uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verlede jaar. Vanaf links: Renee, Jarryd, Abigail en Jeremy Grootboom. Foto: Jeremy Grootboom
"Die span was instrumenteel in sy voorbereiding. Sielkundiges en ander spanlede het saam met hom gewerk om hom gereed te kry vir sy onderhoud, hom te leer hoe om met mense te kommunikeer en hoe om homself tydens die onderhoud te hanteer," vertel Jeremy.
Die span het hom ook tydens die onderhoud vergesel om seker te maak dat alles glad verloop. Die ondersteuning het uiteindelik gelei tot die werk wat hy vandag met trots beklee.
Die ondersteuning van familie, vriende en die gemeenskap het volgens Renee deurentyd 'n groot rol gespeel.
Trots op sy prestasies
Jarryd werk tans as 'n handelaar by Woolworths, waar hy sy werk, kollegas en die daaglikse kontak met klante geniet. Hy beskryf die verkryging van sy bestuurslisensie as een van sy grootste prestasies.
"Ek is baie trots daarop. Ek hou daarvan om te bestuur en dit is 'n baie lekker gevoel om agter die stuurwiel te wees." Benewens sy lisensie is hy ook besonder trots daarop dat hy 'n prefek was en vandag 'n vaste werk het. Hy sê sy ouers, onderwysers en die span by Carpe Diem het 'n groot rol in sy sukses gespeel. "My pa het my altyd na afsprake geneem en my ma het my aangemoedig om nooit moed op te gee nie. By die werk het my bestuurders my ook baie geleer."
Hoewel hy reeds baie mylpale bereik het, droom Jarryd steeds groot.
Hy hoop om eendag as toesighouer by Woolworths aangestel te word en glo dat harde werk en deursettingsvermoë hom sal help om dié doelwit te bereik. Aan ander jongmense het hy 'n eenvoudige, maar kragtige boodskap:
"Gee altyd jou beste en werk hard. Dit is nie altyd maklik om elke dag op te staan vir werk nie, maar as jy hard werk, kan jy jou doelwitte bereik. Ek kon selfs my eie motor koop".
Vir die Grootboom-gesin is Jarryd se lewe 'n bewys dat geloof, volharding en die regte ondersteuning selfs die grootste uitdagings kan oorkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’