SEDGEFIELD & KARATARA NUUS - Na aanleiding van 'n berig oor ds. Marius Coetzee wat op 11 Junie in Knysna-Plett Herald verskyn het, het die kerklede en sy regsverteenwoordiger, Herman Janzen van Rensburg, hul kommer uitgespreek oor die wyse waarop die NG Kerk se moniteringsproses en die Algemene Sinode se terugvoering oor die saak hanteer is.
Hulle meen 'n verklaring wat aan die Kerkbode verskaf en later gepubliseer is, bevat feitelike onakkuraathede oor die betekenis van die hooggeregshof se bevel.
Regsbrief bevraagteken Kerkbode-plasing
In 'n formele brief van 5 Junie aan ds. Hanri Joubert, aktuarius van die Wes-Kaapse Sinode, voer Janzen van Rensburg aan dat Kerkbode se berig, "Hooggeregshof stel tugsaak teen Marius Coetzee tersyde - nuwe ondersoek gelas", 'n misleidende indruk skep.
Volgens hom kan lesers verkeerdelik aflei dat die Ring van Knysna verplig is om dissiplinêre stappe oor die spesifieke aanklag van skeurmakery voort te sit, terwyl die hofbevel dit nie voorskryf nie.
De novo ondersoek sentraal
Janzen van Rensburg wys daarop dat die hof die saak terugverwys het na 'n nuut saamgestelde tugliggaam vir 'n de novo ondersoek van alle klagtes en, "if warranted", 'n formele tugverhoor.
Volgens hom beteken dit die ondersoek moet van vooraf begin, sonder steun op vorige bevindings, en dat die nuwe tugliggaam eers moet besluit of 'n formele verhoor geregverdig is.
"Die hofbevel vereis dus nie dat enige spesifieke aanklag outomaties na 'n tugverhoor moet gaan nie," voer hy aan. Hy meen openbare verklarings behoort die volle konteks van die hofbevel weer te gee om waninterpretasie te voorkom.
Kostebevel en openbare kommunikasie
Janzen van Rensburg sê ook die hof se kostebevel is nie volledig in die Kerkbode-verklaring weergegee nie.
Volgens hom is die derde tot 10de respondente gelas om Coetzee se koste van beide die hersieningsaansoek en dringende interdik te betaal, insluitende, waar toepaslik, die koste van twee advokate.
Ondersteuners van Coetzee meen akkurate en volledige kommunikasie is noodsaaklik wanneer hofbevele en kerklike tugprosesse aan lidmate verduidelik word.
Dr. Henrietta Klaasing van Randfontein sê die frase "waar toepaslik" is van kardinale belang, omdat die weglating daarvan die indruk kan skep dat 'n tugverhoor reeds vooraf bepaal is.
Kerkraad vra billike proses
Nico Basson, wat namens Coetzee en die kerkraad kommentaar gelewer het, sê die afgelope paar jaar was vir Coetzee, sy gesin en die gemeente besonder pynlik.
Hy voer aan dat Coetzee en die kerkraad die tugproses grootliks sonder kerklike ondersteuning beleef het en dat die proses volgens hulle onbillik verloop het.
Die kerkraad het, sê hy, deurentyd geglo Coetzee is onskuldig en het hom as werkgewer bly steun.
Volgens Basson bevestig die hooggeregshof se uitspraak dat die vorige prosedure gebrekkig was.
Hy sê die hof se bevel beklemtoon dat 'n nuwe ondersoek slegs moet voortgaan indien geregverdig ("if warranted"), waarna daar eers besluit kan word of 'n formele dissiplinêre verhoor nodig is. Hy sê die kerkraad hoop die nuwe proses sal met onpartydigheid, natuurlike geregtigheid en wysheid verloop, en hy doen 'n beroep op lidmate om op die herstel en opbou van die gemeente te fokus.
NG Kerk se reaksie
Knysna-Plett Herald het Joubert om kommentaar genader oor die interpretasie van die hofbevel en die kritiek wat geopper is.
Joubert het geantwoord: "Ek voer ongelukkig geen gesprek met enige media buite die kerk se amptelike kanale nie."
Die NG Kerk het vroeër volgehou dat die saak volgens kerkordelike prosesse hanteer is. Janzen van Rensburg verskil egter van dié uitleg en sê die hofbevel vereis eers 'n volledige de novo ondersoek voordat daar oor enige formele tugverhoor besluit kan word.
Teen die ter perse gaan was daar geen aanduiding dat die nuwe ondersoek of enige verdere tugproses reeds afgehandel is nie.
Lees vorige berig:
Karatara-dominee wen hofstryd teen NG Kerk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’