SEDGEFIELD & KARATARA NUUS - Die Kaapse hooggeregshof het die NG Kerk se tugbesluite teen ds. Marius Xavier Coetzee, predikant van die NG Kerk Karatara/Sedgefield-bediening, tersyde gestel.
Coetzee is in 2024 deur die ringtugliggaam van die Ring van Knysna skuldig bevind aan skeurmakery en oneerlikheid, maar die hof het die tugproses nou ongeldig verklaar en gelas dat die klag van skeurmakery opnuut deur 'n nuwe tugliggaam aangehoor moet word
Die saak spruit uit 'n langdurige dispuut binne die NG Kerk Karatara/Sedgefield-gemeente, wat uiteindelik gelei het tot tugstappe teen Coetzee. Ná sy skuldigbevinding het hy die beslissing na die appèlliggame van die Wes-Kaapse Sinode en die Algemene Sinode geneem, maar beide liggame het die oorspronklike bevinding en sanksie gehandhaaf.
Coetzee het daarna die hooggeregshof genader vir 'n hersiening van die besluite.
Hof stel kerk se besluite tersyde
Volgens die persverklaring wat deur ds. Hanri Joubert (predikant van Gansbaai en aktuarius van die Sinode van Wes-Kaapland) namens die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland aan die Kerkbode uitgereik en op die kerk se webwerf gepubliseer is, het die Kaapse hooggeregshof die hersieningsaansoek van ds. MX Coetzee en die kerkraad van die NG Kerk Karatara-gemeente op prosedurele gronde toegestaan.
Verder lui die persverklaring ook dat die moderatuur die verklaring volledig beskikbaar gestel het ter wille van deursigtigheid en lidmate se toegang tot amptelike kerklike inligting.
Die persverklaring meld dat die Ring van Knysna, die ringtugliggaam, die Sinode van Wes-Kaapland, die Algemene Sinode en hul onderskeie appèlliggame as respondente in die hersieningsaansoek gelys is.
Volgens die verklaring het die hof die besluit van die Ring van Knysna, asook die bevindings van die twee appèlliggame, tersyde gestel.
Ten slotte word daar in die persverklaring aangedui dat die hof gelas het dat die klag van skeurmakery teen Coetzee de novo - oftewel opnuut - deur 'n nuut saamgestelde ringtugliggaam ondersoek en aangehoor moet word.
Vrae oor tugproses bly onbeantwoord
Spesifieke navrae wat deur Knysna-Plett Herald aan die NG Kerk gerig is, het onbeantwoord gebly.
Die vrae het onder andere gehandel oor die weiering van ds. Coetzee se versoek om uitstel, die voortsetting van die tugverhoor in sy afwesigheid, die rede waarom alternatiewe prosesse soos mediasie nie vooraf gevolg is nie, die kerk se reaksie op die hof se bevindings oor prosedurele billikheid, en die stappe wat geneem sal word om vertroue in toekomstige tugprosesse te herstel.
Joubert het egter gesê die moderatuur van NG Wes-Kaapland sal by sy bestaande standpunt bly. "Die moderatuur van NG Wes-Kaapland gaan volstaan by die verklaring wat in die Kerkbode geplaas is. Indien ons dit in die toekoms nodig vind om kommentaar te lewer, sal dit ook via die kerklike media, naamlik die Kerkbode, wees," het Joubert gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’