OPINIE - Jare gelede was daar was 'n tyd toe 'n huiswinkeltjie veel meer as net 'n plek was waar jy brood en melk gekoop het.
Dit was deel van die buurt se hartklop.
Toe ek nog kind was, was huiswinkeltjies nie oral nie. Maar elkeen het sy eie karakter gehad.
Antie Mary in Toekomsrus was byvoorbeeld die buurt se ma. As jy stout was, het sy jou berispe nog voor jou eie ma daarvan geweet het. Oom Ben by Wescourt Park het gereeld vir ons pool-kompetisies gereël, en oom Fanie op die hoek het altyd eerste geweet wie trou, wie skei en wie se kind het die rugbyspan gehaal.
Hulle was nie net winkeleienaars nie. Hulle was ons bure.
Hulle kinders was ons speelmaats. Ons het saam skoolgegaan, saam katkisasieklasse geloop en saam mekaar se lief en leed geken.
Vandag is die meeste oorspronklike huiswinketjies vervang deur buitelanders se winkels wat ironies genoeg 'My Friend' genoem word. In sommige woonbuurte is daar selfs drie of vier in dieselfde straat.
Niemand kan ontken dat hulle hard werk nie. Hulle pryse is dikwels beter as enigiemand anders s'n, en daarom koop mense daar.
Maar elke muntstuk het twee kante.
Vir elke nuwe winkel wat oopgemaak het, was daar 'n antie Mary wat haar deure moes sluit omdat sy eenvoudig nie meer kon meeding nie.
Daarmee het die buurt nie net 'n onderneming verloor nie, maar ook 'n stukkie van sy identiteit.
Wanneer frustrasie oorkook
Vir jare het mense onderlangs daaroor gemor, maar tog het hulle aangegaan. Tot verlede week, Dinsdag 30 Junie, toe - toe die pot uiteindelik oorgekook het.
Die gebeure rondom daardie dag en week het niemand trots gemaak nie. Winkels is geplunder, mense is geïntimideer en voertuie is aan die brand gesteek.
Dis nou hoe 'n samelewing lyk wanneer frustrasie vir jare opgaar en uiteindelik sonder beheer losbreek.
Geweld is verkeerd.
Maar om voor te gee dat die woede uit die bloute gekom het, is ewe verkeerd.
Vir baie Suid-Afrikaners gaan hierdie debat lankal nie meer net oor immigrasie nie. Dit gaan oor die gevoel dat die wet nie meer vir almal geld nie. Dat grense nie beskerm word nie. Dat ongedokumenteerde immigrasie bloot aanvaar word. Dat die regering te lank gewag het om sy eie wette toe te pas.
Die gevoel onder baie Suid-Afrikaners is dat die geld wat in sommige buitelandse winkels bestee word, uiteindelik weer die land verlaat, terwyl min daarvan terugvloei na die gemeenskap waarin die winkel staan.
Of dié indruk altyd reg is, maak minder saak as die feit dat dit bestaan.
Vertroue word nie verkoop nie
Verlede Sondag vat ek my seuns na die De Jagers-sportkompleks in Oudtshoorn om 'n bietjie fiets te ry.
Op die aangrensende oop stuk veld sien ek 'n groep Pakistanse mans wat 'n ronde krieket in die laat wintersonnetjie speel, terwyl daar iewers op dieselfde tyd 'n groot vlakkiekriekettoernooi aan die gang is.
Dit het my laat dink. As ons regtig in dieselfde land wil woon, sal ons saam moet werk, saam moet eet, en ja, ook saam moet speel.
Reg genoeg - jou geloof is joune en so ook jou kultuur. Maar as jy jou voete onder iemand anders se tafel inskuif, help dit om die huismense te leer ken en hul vertroue te wen. Integrasie is nie assimilasie nie, maar dit vra wel vir inskakeling.
Raak betrokke by die skool. Borg die plaaslike sportspan. Help met 'n fondsinsameling. Woon 'n gemeenskapsvergadering by. Laat mense jou ken vir meer as die goedkoop brood en die lang winkelure en die feit dat jy krediet gee.
Want vertroue word nie agter 'n kasregister gebou nie. En Suid-Afrikaners het ook 'n verantwoordelikheid.
Nie elke buitelander is ongedokumenteerd nie. Nie elke buitelander is 'n misdadiger nie.
Duisende dra eerlik by tot hierdie land en verdien dieselfde veiligheid as enige ander inwoner.
Miskien is dit die grootste les van alles.
Antie Mary se winkel het nie oorleef omdat sy die goedkoopste was nie. Sy het oorleef omdat sy deel van ons was.
En dit is presies wat Suid-Afrika nou die nodigste het; nie nog 'n winkel nie, maar nog 'n buurman.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’