Update
KNYSNA NUUS - Ouers in die Elandskraal-gebied is steeds in die duister oor hoekom die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) twee skole aan die einde van die jaar wil sluit – dit nadat belanghebbendes op Sondag 2 September met verteenwoordigers van die departement vergader het.
Die WKOD se aankondiging verlede maand, verwoord in 'n dokument as synde 'n "intensie van oorweging" om Redlands en Fairview primêre skole te sluit, het nie net die ouers van kinders in hierdie skole ontstel nie, maar die breër bruin gemeenskap tussen Sedgefield en Knysna.
Knysna-Plett Herald het die gemeenskap se talle kwelvrae aan die WKOD gestuur vir terugvoering, en woordvoerder Jessica Shelver het in 'n breedvoerige antwoord daarop genoem dat provinsiale minister van onderwys Debbie Schäfer die departement se voorleggings rakende die sluiting sal ontleed alvorens sy 'n besluit sal neem.
Volgens Shelver is elke skool se omstandighede anders en moet dit so hanteer word. “Skoolsluitings sal slegs in ag geneem word indien daar beter geleenthede vir die leerders beskikbaar is, insluitend beter fasiliteite en meer hulpbronne,” het sy gesê, en bygevoeg dat Redlands en Fairview nie 'n uitsondering is nie aangesien daar meer sulke skole in die land is wat dieselfde lot in die oë staar. Sy het ook genoem dat 'n ander WKOD-woordvoerder, Bronagh Hammond, verder op KPH se vrae sal uitbrei.
Enkelgraadonderrig 'n oorweging
In Hammond se terugvoering, wat vandeesweek ontvang is, het sy bevestig dat 44 leerders te Redlands, en 60 leerders te Ruigtevlei (bekend as Fairview) deur so 'n besluit geraak sal word. Hammond het, soos Shelver, die “beter geleenthede” by ander skole asook die enkelgraadonderrig beskikbaar by ander skole in die gebied as redes vir moontlike sluiting geopper.
Indien hierdie skole dan sou sluit, wat beoog die WKOD met die eiendom en geboue wat agtergelaat word, wil die gemeenskap weet. Volgens Hammond sal die Redlands-eiendom teruggegee word aan die departement van vervoer en openbare werke, en sal die Ruigtevlei-geboue en -gronde teruggaan na die Diocesan Board of Trustees in George.
Rakende video-opnames wat van gesprekke tussen die gemeenskap en WKOD-verteenwoordigers gemaak is, het Hammond gesê dat die minister nog nie hierdie opnames ontvang het nie, en dat ’n besluit gemaak sal word sodra alle administratiewe prosesse afgehandel is.
Een van die gemeenskap se hoofkwelpunte het te doen met die nuwe "gevaarlike" roete wat hul kinders moontlik na ander skole in die omgewing sal moet neem en is hulle bekommerd oor 'n herhaling van die Rheenendal-bustragedie in 2011. Hierop het Hammond genoem dat die veiligheidsaspek van enige nuwe roete in ag geneem sal word alvorens ’n besluit gemaak sal word.
Een gemeenskapslid, Riko Hardnick, het hierdie week gesê dat hulle as ouers nog geen terugvoer van die onderwysdepartement af ontvang nie. “Tot nou toe het hulle nog nie een keer genoem dat die skole moontlik sal kan saamsmelt nie – dit sal mos alles oplos,” het hy Maandag gesê.
Lees 'n vorige artikel hier: Nog 2 skole gesluit
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'