KNYSNA NUUS - Die gemeenskap van Elandskraal en Ruigtevlei – veral ouers van kinders in dié gebied net buite Knysna – sit met hulle hande in die hare nadat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) onlangs aangekondig het dat dit beoog om twee skole in die omgewing te sluit teen die einde van die jaar.
Op Sondag 2 September het ’n groot aantal ouers van kinders wat te Redlands Primêr skoolgaan – wat ongeveer 46 leerlinge bedien – by die skool vergader vir ’n openbare verhoor om hul kwelvrae aan verteenwoordigers van die departement te stel.
Volgens ’n kennisgewing wat in Augustus vanjaar deur die WKOD uitgereik is namens die provinsiale minister van onderwys Debbie Schäfer, het die departement die “intensie van oorweging” om die skole – Redlands en Fairview Primêr – te sluit.
Die redes daarvoor, soos uiteengesit in die dokument, is die gebrek aan vooruitsig vir groei (leerdergetalle), die klein groep ingeskrewe leerders en die gebrek aan voldoende opvoeders (tans drie onderwysers wat multigraadonderrig toepas). Volgens die kennisgewing is daar beter geleenthede elders vir die leerlinge beskikbaar en stel die WKOD voor dat Redlands se leerlinge na Karatara Primêr oorgeplaas word.
’n Groot aantal ouers van kinders wat te Redlands Primêr skoolgaan by die skool vergader vir ’n openbare verhoor om hul kwelvrae aan verteenwoordigers van die departement te stel.
Hoë gemoedere
Die plaasgemeenskappie, waarvan sowat 50 lede die openbare verhoor bygewoon het en een van Redlands se klaskamers stampvol gesit het, skop egter vas teen hierdie idee. 'n Gemeenskapsleier, Chief Oelf, wat met sy vuis op sy bors gehamer het terwyl hy vertel het hoe kwaad die affêre hom maak, het die gemeenskap se gevoelens verwoord: “Oor die afgelope jare het julle (WKOD/regering) sewe of agt skole in ons gemeenskap toegemaak. Ek is baie kwaad dat julle so met ons volk maak. Niemand hier brand skole af nie, maar ons skole wil julle toemaak. Julle sê meer skole moet gebou word, maar hier maak julle skole toe! Ons kinders gaan nêrens nie,” het hy met ondersteunende uitroepe van ander lede aan WKOD-verteenwoordigers gesê.
Ouers van kinders in Redlands Primêr het saam met ander lede van die gemeenskap op Sondag 2 September by die skool vergader om die provinsiale onderwysdepartement aan te vat oor die vooruitsig dat die skool gesluit gaan word. Foto: Stefan Goosen
Foto: Stefan Goosen
Oelf, en die meerderheid van die groep mense teenwoordig, het die 2011 Rheenendal-bustragedie opgeroep toe hy gesê het, “Die pad wat ons kinders sal moet ry na die ander skool toe is baie gevaarlik, veral wanneer dit reën, en ons wil nie nog so ’n tragedie op ons hande hê soos die mense van Rheenendal nie. Veertien kinders is daar oorlede.”
Uit Oelf en ander se uitlatings was dit duidelik dat die gemeenskappe tussen Knysna en Sedgefield moeg, gefrustreerd, kwaad en teleurgesteld is oor die aaankondiging. ’n Onderwyser het ook genoem hoe hartseer die skool se sluiting vir hom sou wees.
Knysna-Plett Herald het ’n aantal navrae aan Schäfer se kantoor gerig, maar teen druktyd was daar nog geen terugvoer ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'