KNYSNA NUUS - Op 101 jaar het Veronica Terblanche reeds meer as 'n eeu se geskiedenis sien afspeel. Sy het Suid-Afrika deur talle veranderinge sien gaan, maar een ding het nie verander nie: haar geloof in die belangrikheid daarvan om haar stem te laat hoor.
Tannie Veronica, 'n inwoner van die Garden Gates-ouetehuis in Knysna, het Maandag 2 November haar spesiale stem uitgebring, twee dae voor die amptelike stemdag op Woensdag 4 November.
Haar rede? "Dit is vir my belangrik om my vaderland te eer sodat dit reg bestuur kan word."
Vir haar is ouderdom geen rede om haar demokratiese reg prys te gee nie. Op die vraag of dit steeds vir haar belangrik is om te stem, was haar antwoord beslis: "O ja, definitief!"
Sy kan onthou dat sy sowat 80 jaar gelede die eerste keer gestem het. Die proses het sedertdien heelwat verander, sê sy. "Dit is beslis baie geriefliker. Ek was in minder as vyf minute klaar gestem."
Maar hoewel die stemproses dalk makliker geword het, is sy minder gerus oor die toestand van die land.
Die geweld in Suid-Afrika is volgens haar "iets vreeslik", terwyl werkloosheid een van die grootste probleme is waarmee die land se mense worstel.
Wat hoop sy sal ná die verkiesing verander? "Definitief meer werksgeleenthede."
Sy is egter nie oortuig dat politici altyd hul beloftes nakom nie. "Ek twyfel daaraan," sê sy eerlik wanneer sy gevra word of leiers werklik na gewone mense luister.
Haar verwagtinge van dié wat verkies word is eenvoudig, maar betekenisvol: hulle moet gelowig wees en by al hul beloftes hou.
En as sy een boodskap aan die land se nuwe leiers kon gee, sou dit wees: "Gaan op julle knieë en bid vir wysheid om die land reg te regeer."
Tannie Veronica glo steeds dat Suid-Afrika kan verbeter, maar meen dat geloof 'n belangrike rol daarin speel. "As almal net meer gelowig is, kan dinge verbeter."
Haar eie lewe word deur dié geloof gerig. Sy sê haar grootste vreugde en dankbaarheid lê in haar geloof en haar gesondheid. Hoewel haar sig ietwat agteruitgegaan het, is sy dankbaar dat sy geen medikasie gebruik nie.
Haar daaglikse roetine begin met gebed. "Ek bid elke oggend en dank die Here vir my gesondheid. Hulle kyk ook so mooi na my hier by Garden Gates."
Wat laat haar ná 101 jaar steeds hoopvol voel?
"Die feit dat ek weet die Here hou my hand elke dag."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’