'n Reuse skeurtand van 160kg, wat deur Xander de Beer van Stilbaai ingeweeg is, het sy klub van 'n oorwinning in die kompetisie verseker.Na 'n lang en taai geveg tussen hengelaar en monstervis, het die uitgeputte hengelaar uiteindelik langs die haai op die strand gesit om asem te skep voordat die vis weer teruggeplaas is.
Die weersomstandighede was goed toe die 102 hengelaars op die gewilde hengelplekke in die Stilbaai-omgewing toegesak en 'n totaal van 103 gevang het. Altesaam 99 visse is weer lewendig teruggesit.
Kobus de Jager, van die Atlantic klub op George het die grootste eetbare vis, 'n mosselkraker van 6.7kg, ingeweeg.
Die junior Christopher Minnie, van die Outeniqua klub, was veral baie trots op sy eerste bronshaai van 3kg wat hy tydens die kompetisie gehaak het.
Uitslae:
A-liga: 1 Stilbaai 227.78; 2 Atlantic 161.89; 3 Triton 93.70; 4 Outeniqua 60; 5 Knysna 53.52; 6 George 23.08; 7 Mosselbaai 19.80.
B-liga: 1 Stilbaai 48.85; 2 Outeniqua 32.27; 3 Weermag 27.08; 4 Atlantic 26.06; 5 Knysna 5.28; 6 Triton 3.81.
Op 6 en 7 Desember vind die gewilde jaarlikse Sportscentre Deurnag Hengelderby in die George-omgewing plaas. Die kompetisie verwelkom rots-, strand- en rivier hengelaars om in te skryf. Groot pryse is op die spel vir seniors, juniors en dames.
Baie gelukkige trekkings gaan ook gedoen word om alle hengelaars die geleentheid te bied om met pryse weg te stap.
Kaartjies is vooraf beskikbaar by Sportcentre, Arms & Tackle en X-treme Fishing in George; JJ Marine, Go-Fish en X-treme Outdoor in Mosselbaai; Crause Broers Slaghuis op Groot Brakrivier en Sportscentre en Breezers Fishing op Knysna.

Die junior Christopher Minnie met sy trotse vangs, 'n bronshaai van 3kg.
'Ons bring jou die nuutste Knysna | Tuinroete nuus'