KNYSNA NUUS - Boggomsbaai was die afgelope naweek die bymekaarkompunt vir hengelaars van regoor die Tuinroete toe die Eden-hengelassosiasie sy sesde somerligakompetisie van die jaar daar aangebied het.
Nadat hengelaars van 07:00 tot 15:00 op Saterdag 2 Februarie gespook het om hul beste vangs uit te sleep, sou dit Kyle Small van Knysna-hengelklub wees wat 'n monster bulrogpylstert van 54.36kg uit die waters gehaal het – die grootste oneetbare vis van die kompetisie.
Die grootste eetbare vis was deur Mark Bester van Outeniqua-hengelklub in George gevang, 'n kabeljou van 10.87kg.
Small se vangs het verseker dat hy as top hengelaar sowel as top O21-hengelaar van die dag wegstap, met Mariette Westraadt van Stilbaai wat die top posisie as vrou beklee het.
Die top O16-hengelaar was Triton-hengelklub (Mosselbaai) se Juanco Boshoff, die top meester was Jacobus de Jager van Atlantic-hengelklub, en die top grootmeester was Willie Vorster van Stilbaai-hengelklub.
Alle visse is lewendig teruggeplaas om bewaring te bevorder.
Die volgende kompetisie vind op 23 Februarie plaas tussen Wildernis en Sedgefield.
Puntestand na die sesde somerligakompetisie:
A-liga (en punte)
Stilbaai 708.18, Knynsa 595.44, Outeniqau 577.72, Triton 573.81, George 530.93, Atlantic 530.33, Mosselbaai 183.13
B-liga
Stilbaai 441.04, Triton 402.24, Knynsa 286.79, Outeniqau 274.79, George 268.59, Atlantic 231.34, Mosselbaai 117.48
C-liga
George 140.38, Knynsa 70.55, Atlantic 62.07, Outeniqau 49.38, Triton 34.03, Stilbaai 27.85
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'