TUINROETE TENNIS NUUS - Debra Hyde van die Knysna-tennisklub is onbestrede herkies tot voorsitter van beide die Eden Tennisvereniging en die Eden-seniortennisvereniging.
Die bestuur van die Eden-tennisvereniging is met die uitsondering van die vise voorsitter dieselfde terwyl die seniors se bestuur ook onbestrede herkies is met net die amp van sekretaris wat nog gevul moet word.
Hyde het tydens die algemene jaarvergadering van die Eden-tennisvereniging beklemtoon dat sy ernstig is oor goeie bestuur.
“Goeie bestuur is die hoeksteen van voortdurende sukses en sluit in ‘n respekvolle en ywerige werksetiek, deursigtigheid en verantwoordbaarheid,” het Hyde gesê.
Sy het haar dank uitgespreek teenoor die Wesbank-, George-, Mosselbaai-, Hartenbos- en Klein-Brakrivier-tennisklubs asook die Hoërskole Punt, Oudtshoorn, Outeniqua, York, PW Botha en Langenhoven Gimnasium vir die beskikbaarstelling van hul geriewe vir toernooie.
In haar jaarverslag van die Eden-seniortennisverening het sy lof toegeswaai aan al die spelers van die streek wat onder die top 5 gekeurdes
is in hul onderskeie ouderdomsgroepe in Suid Afrika asook die spelers wat Suid-Afrika in 2018 in die buiteland verteenwoordig het.
Die gekeurde spelers is Callie Matthee; Garnett Wicomb, Elmarie Lategan, Daan Spengler, June Smith, Hanle Cronje, Guillaume Oberholster, Debra Hyde, Karin Deltenre, Christine van Coller en Rida Bester.
Die spelers wat Suid-Afrika verlede jaar in wêreldseniorskampioenskappe verteenwoordig het is Rida Bester, Christine van Coller en Debra Hyde wat in Duitsland gespeel het, en Hanlé Cronje, June Smith, Sonja Botha, Daan Spengler, Elmarie Lategan en Garnett Wicomb wat in Kroasië gespeel het.
Van Coller, Bester, Hyde, Deltenre en Oberholster is weer gekies om in Augustus in Portugal te gaan speel terwyl Wicomb en Lategan gekies is om weer, in September, in Kroasië te gaan speel.
Daar is tydens die vergadering ook besluit dat spelers wat die vereniging vanjaar in die Cradock-uitdaagtoernooi gaan verteenwoordig, finansieel ondersteun sal word.
Die besture van die twee verenigings vir 2019/20 is soos volg:
Eden-tennisvereniging: Debra Hyde (voorsitter), Ayanda Noshitonga (vise voorsitter), Danie Steyl (sekretaris), Yvonne Dippenaar (tesourier), Marius Bezuidenhout, Anton le Roux, Liezel Miller, Daan Spengler en Lizelle Fourie (bykomende lede).
Eden-seniortennisvereniging: Debra Hyde (voors), Des Roberts (vise-voorsitter), Karin Deltenre (tesourier), Ernst Kok (hoofkoördineerder: 190’s spankompetisie), Hanle Kok (190’s komiteelid), Ayanda Nontshinga en Corné Smit (bykomende lede).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'