Die skitterende Jong Arende het die wedstryd met 30-10 gewen.
Die stryd was in die eerste helfte baie gelykop, alhoewel die tuisspan rustyd met 13-7 voorgeloop het. Die Valke se verdediging kon nie in die tweede helfte hou teen die aanslae nie en die Arende het gevolglik drie keer agter die doellyn van die Valke gaan kuier.
Nico Nel (no. 5 slot) wat weer 'n barshou gespeel het, het twee drieë gedruk. Sy kragspel in die lynstane, en veral in die losgemale, was 'n lus om te aanskou.
Vir sy laaste drie, wat ook die bonusdrie van die SWD-span was, het hy die bal onderskep en soos 'n wafferse vleuel oor die doellyn geseil terwyl die Valke verslae staan en toekyk het.
Die ander driedrukkers was Anwa Fillis (senter) en Keanan Esau (heelagter). Christiaan Willemse (losskakel) het met twee doelskoppe en twee strafskoppe geslaag. Die speler van die wedstryd was Nico Nel.
Die semi-finaal tussen die SWD o.21 en die Pumas o.21 vind Saterdag (6 Oktober) om 15:00 op Outeniquapark plaas. Indien die span die wedstryd wen speel hulle die volgende week teen die wenner van OP en Griekwas. Indien Griekwas die wedstryd wen en die SWD-span seëvier in George is daar weer 'n tuis finaal op Outeniquapark.
