RUGBY NUUS - Dis week 15 en toeskouers sal alreeds die einde van die SWD-premierliga ervaar na afloop van die komende Saterdag se wedstryde.
Evergreens vs Bridgton (Pacaltsdorp)
Evergreens (55 punte) wat tans die pas aangee in hierdie jaar se kompetisie kan glad nie te gemaklik wees bloot omdat hulle ‘n tuisvoordeel het nie. Bridgton (50 punte, in die 5de posisie) kom met een doel voor oë: hulle soek ‘n plek in die uitspeelrondes. Albei spanne is tans goed op dreef en beleef ‘n goeie seisoen.
Tóg word spanne herinner aan die oeroue gesegde, “die Currie Cup word nie in Maartmaand gewen nie”.
Dit is wat, veral Evergreens, in gedagte moet hou bloot omdat hulle tot dusver so goeie jaar beleef. ‘n Verloor teen ‘n span wat net vyf punte minder as die voorlopers het, sal die kanse vir ‘n tuis halfeindstryd in gedrang plaas.
Pacaltsdorp behoort stampvol te wees. Albei spanne speel tans aantreklike rugby en behoort ‘n goeie vertoning vir die toegewyde ondersteuners op te dis. Verwag hoë-risiko rugby, dit is waarvoor die manne van Oudtshoorn bekendstaan. Evergreens behoort hierdie een net-net te wen. Die tuisvoordeel sal die Pacaltsdorpers deurdra.
Crusaders vs Progress (Parkdene)
Hierdie twee spanne het gesorg vir ‘n groot drama met die uitstel van hul eerste ligawedstryd, ‘n wedstryd wat uiteindelik eers vier weke gelede gespeel was. Dit is môre weer tyd vir Rosemoor en Parkdene se inwoners om hul spanne aan te spoor. Progress beleef tans ‘n moeilike seisoen.
Aan die anderkant is Crusaders (53 punte, 3de plek) oorgehaal om met Progress af te reken en sodoende na die naweek se wedstryde bo-aan die punteleer te eindig, sou Bridgton wonders verrig teen Evergreens.
Met alles wat tans in die binnekringe van Progress gebeur behoort Crusaders dit tot hul voordeel te gebruik om dan vir ‘n tweede keer in die jaar, die gesogte Progress-span te laat les opsê. Eric Zana en Clinton Wagman geniet hulle altyd teen hul gewese span en hierdie naweek behoort hierdie twee weer die vuur aan te steek vir hul span, Crusaders. Ek voorspel dat Crusaders hierdie een wen.
Heidelberg vs Jaguars (Heidelberg)
Heidelberg (53 punte, 2de plek) se visier is op ‘n tuis halfeindstryd. Heidelberg bevind hulself tans in ‘n gemaklike posisie en behoort volpunte by Jaguars te kry, ‘n span wat nét nie wil wen nie. Dit sal Heidelberg se posisie egter versterk met die oog op die tuisvoordeel wanneer die uitspeelrondes afskop. Heidelberg behoort maklik met Jaguars af te reken. Min spanne reis na die Hessequa-streek en kom terug met ‘n wen.
Riversdal Blues vs Groot-Brak (Riversdal)
Hierdie een behoort interessant te wees, diegene wat die puntestand volg sal definitief hul oë op hierdie wedstryd wil hou. Blues gaan by tye die Brakkies laat sidder, maar die positiewe houding wat tans in Groot-Brak (51 punte, 4de plek) se kamp heers sal een te veel wees vir die nuweling van die premierliga. Brak wen met ‘n bonuspunt, (baie belangrike bonuspunt).
Barbarians vs Maoris (Mosselbaai)
Beide spanne sukkel om met ‘n wen van ‘n wedstryd af weg te loop. Gelukkig kan een van hierdie twee spanne hierdie naweek met die louere wegstap. Barbarians gaan te veel ervaring inhou vir die span van Borcherds. Die wind waai snaakse rigtings in Mosselbaai, spanne kan tot vandag toe nie die wind lees nie, net Barbarians. My voorspelling is dat Baabaas die een wen.
Blanco vs George (Blanco)
Ons noem sommer hierdie een, die ‘bo- dorp derby’. Blanco het goed teruggeveg teen Crusaders in verlede week se stryd. Telling was op ‘n tyd 31 - 17, Blanco verloor uiteindelik die wedstryd, 31 - 29. Daardie 12 punte het gewys dat Blanco glad nie ‘n span is om te onderskat nie.
George sal môre vir ‘n vale moet keer, want Blanco sien kans om by die agterdeur in te kom wat uitspeelrondes betref.
Beide afrigters het Currie Cup-glorie in hul onderskeie rugbyloopbane beleef en weet presies wat môre se wedstryd vir albei van hul spanne sal inhou en beteken. George gaan ontsettend baie weerstand bied, maar dit sal uiteindelik die span wees wat ‘n opwaartse kurwe getoon het die afgelope paar wedstryde, wat hier sal seëvier. Blanco wen.
Toeskouers, daag op by julle verskillende velde en moedig die manne aan, hulle het baie ingesit deur die week om vir jou ‘n goeie 80-minute.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’