RUGBY NUUS - Die SWD Eagirls is vol moed dat hulle Saterdag 5 Augustus die knoop gaan deurhaak in die eindstryd van die vroueafdeling van die vroue eerste divisie.
Hulle speel in Bloemfontein teen die Cheetahs. Dit volg nadat hulle die afgelope Saterdag, 29 Julie, die Luiperds met 22 - 15 op Outeniquapark in die halfeindstryd van die reeks geklop het.
Die afgelope Saterdag was nie maklik nie. Toe hulle op die veld gedraf het, was hulle bewus daarvan dat hulle vroeër vanjaar die Luiperds geklop het. Die Luiperds was egter reg vir hulle.
Die speler van die wedstryd was Chante Jonck. Vir die SWD Eagirls het Shanon Windvogel, Eupheni Fillis, Jonck en Yolando Samspon agter die doellyn gaan kuier. Die doelskop wat geslaag het is waargeneem deur Antonecia Hannies.
Elize Arendse, afrigter van die SWD Eagirls, het Maandag 31 Julie gesê dit was 'n baie moeilike wedstryd. Dit was duidelik dat die Luiperds vooraf hul huiswerk gedoen het. Hulle het aanvallend en nogmaals aanvallend gespeel. Dit was 'n baie gelykopstryd.
Met rustyd was dit 10 - 10. Die wedstryd kon toe nog enige kant toe gaan. Die SWD Eagirls het eers in die tweede helfte die wenpunte aangeteken.
Arendse het gesê die fokus het nou na Saterdag se wedstryd verskuif.
Die span het vroeër vanjaar teen die Cheetahs gespeel en verloor. Dit was die span se enigste nederlaag en hulle het 40 - 0 verloor. Sy het benadruk dat die nederlaag nie die span sielkundig terughou nie. "Ons benader die wedstryd positief. Ons glo 100% ons kan hulle wen."
Die SWD Eagirls verwag 'n harde wedstryd, want die Cheetahs het ook tuisveld voordeel.
"Ons kan wen omdat ons 'n eenheid is. Daar is 'n ongelooflike gees in die span."
Die span vertrek vanaand (Donderdag 3 Augustus) na Bloemfontein.
Die Eagirls het vanjaar agt wedstryde agter die rug en het sewe daarvan gewen.
Die SWD Eagirls na hul oorwinning.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’