SUID-KAAP RUGBYNUUS - Nog 'n groot klip in die pad wag op die SWD Arende in die vyfde ronde van die SuperSport-uitdaagreeks Saterdagmiddag in die Rosemoor-stadion wanneer hulle teen die Boland-Kavaliers te staan kom.
Die Bolanders is hul onoorwonne status kwyt nadat die Haaie XV-tal hulle in Durban net-net met 29-28 geklop het. Hulle beklee nou die tweede plek in die suidelike afdeling met 15 punte met die Westelike Provinsie wat die toon aangee met 20 punte. Die Arende lê in die sesde plek met ses punte.
Die Arende het verlede Saterdag hul derde nederlaag van die seisoen gely toe die Vrystaat XV-tal hulle met 64-17 afgeslag het.
Die Arende se gebrekkige voorseisoense kondisionering is in dié kragmeting deur die Vrystaters ontbloot en die besoekers het die drieë behoorlik ingeryg. Hoewel die Arende vir 'n ruk moedig walgegooi het en om die bal kon meeding, het die damwal na rustyd gebars en is die Arende se verdediging oopgevlek.
Die gekweste Boland-Kavaliers sal wil vergoed vir die nederlaag teen die Haaie en die Arende kan hulself dus staal vir 'n groot aanslag. Wen hulle dié ene teen die verwagting in, sal dit hul versukkelde seisoen effe versag.
Die wedstryd begin om 14:30 waarna Progress om 16:15 teen Barbarians te staan kom.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'