SUID-KAAP NUUS - Progress het Saterdagmiddag voor bykans 5 000 toeskouers op die Rosemoor-sportterrein vir hulle 'n tuis halfeindstryd in die SWD Premierliga bespreek.
Die tuisspan het vier pragdrieë gedruk in hul oorwinning van 26-22 oor die verdedigende kampioenspan, Evergreens.
Progress, wat vanjaar 15 van sy 16 wedstryde gewen het, het met hul volpunte oorwinning getoon dat hul die gunsteling is om op Saterdag 26 Augustus op Outeniquapark die Groot Uitdaagbeker omhoog te hou.
Bridgton (60), Evergreens (57) en Barbarians (55) sal sake in die oorblywende twee wedstryde uitspook.
Progress se agttal het die grondslag vir hul oorwinning gelê en in die skrums en vaste fasette die oorhand gehad. Hy het ook talle omgekeerde besit bewerkstellig.
Agterlangs was hul vleuels, Clint Wagman, Fizel Fredericks en Oswill Nortje (buitesenter) gevaarlik met die bal in die hand. Veral Wagman het met sy brute krag en rotsvaste verdediging die oog gevang.
Evergreens het te veel ongedwonge foute gemaak en kon nie afrond in die eerste helfte nie.
Die besoekers se beste speler was ongetwyfeld hul lenige flank Arden-Lee Wesso. Wesso was 'n yster in die vastelos en het met sy kraglopies baie veld vir sy span gewen. Hy het ook puik verdedig.
Agterlangs was Divan Strydom (buitesenter) hul groot planmaker. Hy het 'n groot aandeel gehad aan die drie drieë wat sy span gedruk het.
Nortje (2), Fredericks en André Jantjies (flank) is oor vir drieë vir die wenspan. Jade Roelfse (losskakel) slaag met 3 doelskoppe.
Vir Evergreens is Strydom, Llewellyn Treurnicht (agtsteman) en Anvor Prins (loskopstut) oor vir drieë. Erwin Harris (losskakel) slaag met 2 doelskoppe en 'n strafdoel.
Maori's het Saterdagmiddag in 'n baie aanskoulike wedstryd vir NMU Madibaz op die Borcherds-sportterrein met 36-12 geklop.
Die wenspan het alle afdelings van die spel oorheers en 5 puik drieë gedruk. Marshall Frans, Cedrick Ryneveldt, Edwill Rouls, Chesnay Smit en Selwyn Jacobs het vir die wenspan gaan druk. Frans slaag ook met vier doelskoppe en 'n strafdoel.
Vir die studente is Taswin da Silva (heelagter) en Francois Kemp (agtsteman) oor vir drieë. Christian Willemse (losskakel) slaag met 'n doelskop.
Puntemakers - tweede en derde spanne
Evergreens II (24): Drieë - Nathan Beukman (regtervleuel), Sheldon Bruinders (agtsteman), Allister November (flank). C-Than Moos (buitesenter) slaag met drie doelskoppe en 'n strafdoel.
Progress II (20): Drieë - Enrico Scott (heelagter), Brisslin Blom (buitesenter). Blom slaag ook met 2 doelskoppe en 2 strafdoele.
Progress III (26): Drieë - Aldeno Scott (regtervleuel), Sylvester Lewis (buitesenter), Royston Booysen (linkervleuel), Cawille Ruiters (flank). Eugene Heneke (losskakel) slaag met 2 doelskoppe en Elroy Stalmeester (heelagter) klits ook 'n doelskop oor.
Evergreens III (15): Drieë - Wayden Bennett (regtervleuel), Lorencois Olckers (loskopstut). Jonathan Saaiman (skrumskakel) slaag met 'n doelskop en 'n strafdoel.
Maori's II (55): Drieë - Maree, Jacobs, Afrika, Matthew, Skorbinski (2), September (3). Afrika slaag ook met 5 doelskoppe. September is speler van die wedstryd.
NMU Madibaz II (7): Drie - Breyton Arendse (buitesenter). Arendse slaag ook met 'n doelskop.
Maori's III (26): Drieë - Chris Aweries (3), Wales Rondganger. Henry van der Ross slaag met 3 doelskoppe. Aweries is aangewys as speler van die wedstryd.
NMU Madibas III (6): Shaun slaag met 2 strafdoele.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'