RUGBY NUUS- Een van die SWD Arende se nuwe aanwinste, Gaywin Smith volg in die voetspore van sy pa, Piet Smith. Gaywin is opgeneem in die Arende-span, om nes sy pa, as slot in die no.5-trui uit te draf.
Smith senior het in die 90's vir die Arende uitgedraf. Wanneer Gaywin, as 'n kontrakspeler binnekort saam met die span begin met voorbereidings vir die nuwe seisoen, sal hy kan staatmaak op goeie advies van sy pa.
Vir die 30-jarige Gaywin is dit 'n droom wat waar geword het. Hy het in 'n huis grootgeword waar baie rugby gepraat is. Op 'n jong ouderdom is hy blootgestel aan rugby deur sy oupas, Joseph October en Piet Smith, en ook sy pa. Hy het van kleins af gedroom om eendag vir die Arende uit te draf.
Gaywin was op skool hoofseun van Groot-Brakrivier Sekondêr en ook kaptein van die skool se o.19 A-span. Hy het daarna gaan studeer en eers nadat hy sy studies voltooi het, rugby ernstig begin opneem.
Hy is op die oomblik 'n onder-wyser. Nieteenstaande die nuwe uitdaging sal hy steeds in die onderwys aanbly.
Hy het Maandag vertel rugby is in sy bloed. Sy pa was van kleins af 'n inspirasie en hy wou altyd soos sy pa op die veld gewees het.
Hy het 'n tweelingbroer, Gaybrin, wat al vir die Blou Bulle se 10's-span gespeel het en ook die unie se amateurspan.
Gaywin beskryf homself as baie mededingend op die veld. "Ek is iemand wat alles gee as ek my tot iets verbind het."
Hy benadruk sonder sy eggenoot, Lindsey-Jo en hul seun Daniel-Ray, se steun sal hy nie iets kan bereik op die rugbyveld nie.
Piet het gesê hy is baie trots dat sy seun sy rugbytalente kan uitleef. Natuurlik praat hulle rugby en die afgelope Saterdag het hulle juis weer koppe bymekaargesit oor die spel.
Hy probeer elke wedstryd van Gaywin bywoon. "Dit gee my geleentheid om met hom te gesels en bietjie tegniese verstellings te maak waar nodig.
"Slotte speel 'n groot rol in 'n wedstryd en 'n slot moet sy man kan staan. Jy moet getel word. Jou teenstanders moet weet van jou."
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het gesê Gaywin is 'n groot aanwins. Dis duidelik daar is rugby in hul familie genetika. "Sy pa was 'n legende in SWD-rugby. Hoewel Gaywin nog in 'n vroeë stadium van sy rugbyloopbaan is, sit hy die familie tradisie voort. Sy pa het 'n groot invloed op sy lewe en Gaywin kom uit die gemeenskap."
Volgens Moolman het Gaywin beslis rugby vaardighede en hy kan 80 minute speel. Hy behoort sy merk te kan maak.
Alles is op koers dat die Arende op 1 November met hul voorbereidings begin.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'