Die spelers het oor ‘n tydperk van drie jaar behoorlik naam gemaak op plaaslike sportvlak. Hulle het met groot deursettingsvermoë en volgehoue dissipline wedstryd na wedstryd bewys dat, wat eens op ‘n tyd as straatsport beskou is, die belangrikste sportsoort in die lewens van doodgewone kinders kan word.
Die klub se sake is knap en doeltreffend bestuur en hul afrigter het met volgehoue moed en ywer sy spanne gelei. Hulle kon die vrugte daarvan pluk met die goeie resultate met elke wedstryd.
Die spelers se liefde vir sport blyk uit hul prestasies op die veld. Die groot uitblinker en staatmaker op die veld vir 2011 was Ricardo Cameron.
Die spelers is vereer met trofeë, sertifikate en spesiale toekennings vir hulle harde werk, en hulle is ook deur hul afrigter bedank. Dit is duidelik dat daar ‘n mooi toekoms vir die spelers is as hulle op die momentum van 2011 kan voortbou.
Die Uitvoerende Onderburgemeester, Raadslid Harry Levendal, was ‘n spreker by die geleentheid. Hy het gesê die spelers moet die waarde en die potensiaal wat in elkeen opgesluit lê, nooit onderskat nie. Hulle moet hulself nie so laag ag dat die minste vir hulle goed genoeg is nie, maar dat hulle vir net die beste moet gaan.
Die borge van die jaareindfunksie, asook Afro Fishing, word ook hartlik bedank vir hul bydraes. Die klub wil ook vir mnre Henmo en André Marx in besonder bedank vir hul borgskap.
Met die rugbyseisoen en die jaar op sy einde, word elke speler en die bestuur seën toegewens tot en met die volgende byeenkoms waar die Klub weer sy staal sal wys in 2012.

Lede van die Garden Route Rugbyklub saam met die Uitvoerende Onder-Burgemeester, Raadslid Harry Levendal, en Raadslid Nicolaas Booisen.