Sedgefield se Jeanne-Mari Scholtz, 'n 39-jarige enkelma van twee, is in haar afdelings 'n skopboks- en gevegskunswêreldkampioen. Sy spog nou met vyf goue medaljes. Nog 'n Proteaspanlid, die 19-jarige Anuschka Zaayman van Knysna het goud in beide die ISKA and NAGA kampioenskappe opgeraap.
Soos voorheen berig, het Scholtz na slegs een jaar onder leiding van die Scorpions Martial Art Academy en Two Brothers Combat Institute in George, vyf goue medaljes logeslaan en haar Proteakleure verwerf by die Suid-Afrikaanse NMA-ISKA kampioenskappe wat verlede jaar in Kaapstad gehou is. Haar huidige mentor, Sempai Deon Snyders van Dojo Eagle Fights Arts op Sedgefield, het die afgelope maande, daagliks etlike ure aan haar afronding bestee. Scholtz sê hy het sy lyf op die spel geplaas en was 'lewende aas' in die proses om haar gereed te maak vir een van die grootste uitdagings van haar lewe.
Zaayman is 'n student van Wessel's Martial Arts Academy onder die sambreel van die Suid-Afrikaanse Goju Ryu Karate-Do, onder leiding van die nasionale instrukteur Shihan André van Vuuren en Karate-do Internasionaal onder Kancho Rony Kluger. "Dis 'n student waarop ons uiters trots is en wat haarself deur en deur bewys as een van Suid-Afrika se top mededingers," sê Sensei Wessel Willms.
Op 5 en 6 Julie, in 'n arena van 6 500 deelnemers uit 50 lande, het Scholtz en Zaayman hul staal gewys en gewen in verskillende kategorieë van die afdelings vir skopboks en gemengde gevegskuns.
Vir Scholtz was hierdie uitdaging lewensveranderend. Nie net was sy daar sonder die nodige ervaring nie, sy was ook daar op eie stoom deur midel van pannekoekbak op Vrydae by die Sedgefield Spar, 'n netwerk ondersteunende vriende, plaaslike besighede soos Pitbull Moto Krew, Caltex, The Waves, Goji PR, Lemon and Lime, Mrs Min Cleaning Services en 'n geduldige kredietkaart ...
Scholtz se pad na oorwinning is geplavei deur die persoonlike pyn van ontmagtiging en magteloosheid. Haar passie in die kryt kan sy regstreeks herlei na haar kinderjare - 'n verhaal van wrede ontnugtering na molestering en 'n lang stryd met afknouery het haar gees verrineweer.
Sy onthou hoe sy reeds as kind sou sien hoe haar broer boks en hoe sy haarself self tot binne-in die kryt gedroom het. Van 'n oorgewig en onseker dogtertjie was dit 'n lang pad terug tot die selfversekerde en selfbeheersde sterk vrou wat veg "vanaf 'n plek van oorwinning en nie om te wen nie".
Sy onthou haar eerste kennismaking met die sport en hoe 'n vrees vir fisiese oorheersing haar keel laat toetrek het. Sy sê dit het haar bykans twee maande geneem om haarself ten volle in die kryt te gooi - 'n lang pad terug na haarself.
Nou, sê Scholtz, het haar sport haar bemagtig om 'n kampvegter te wees vir elke kind met 'n gebrek aan selfwaarde. "Ek wil kinders 'boelie-proof'."
Sy sê dis nie fisiese krag wat mens red nie, maar die wete dat mens die krag het en dit kan inspan. En dis haar droom. Sy sien haarself met 'n akademie waar kinders en vroue hul krag kom herontdek, 'n plek waar berge molshope word.
"Wanneer jy jou krag ken, is jy 'n oorwinnaar en daar is nie meer 'n geveg om te wen nie." Haar volgende doelwit is 'n swart belt in skopboks. Enigiemand wat haar wil ondersteun, kan haar kontak by 082 337 9204.

"Dis moeilik om te glo ek het eens 107kg geweeg en ek het geen selfwaarde gehad nie."
ARTIKEL: INGRID ERLANK
'Ons bring jou die nuutste Knysna | Tuinroete nuus'