SUID-KAAP NUUS - Die visie van SWD Tweekamp is om meer as net ‘n geleentheid te bied om aan sport deel te neem – dit streef daarna om vir deelnemers ‘n lewenswyse te help skep.
Tweekamp bestaan uit swembadswem (50m of 100m) en baanhardloop (800m tot 2 000m). Vanaf die junior veterane word bonuspunte bygereken (ongeveer 15 punte per jaar) vir elke jaar wat die atleet ouer is as op die aanvangsdatum.
'n Getal van 2 000 word beskou as ‘n billike punt om in aanmerking vir ‘n provinsiale span te kom (5 per ouderdomsgroep), maar die finale besluit word deur die keurkomitee geneem. Vir die 2017/18 seisoen is die onder-8 (O8) ouderdomsgroep nou deel van die tweekamp ouderdomsgroepe (swem 25m en 400m hardloop).
Die ouderdomsgroepe is as volg: O8, O9, O11, O13, O15, O17, O19, senior of ope (enige ouderdom), junior veterane (27-39), veterane (40-49), senior veterane (50-59) en meesters (60-plus). Die SA kampioenskappe maak ook nou voorsiening vanaf O9. Die afstande is as volg: hardloop en swem: O8, 400m en 25m; O9 en O11, 800m en 50m; S13, 1 200m en 100m; S15, 1 500m en 100m; S17, S19 en senior mans, 2 000m en 100m. Alle dogters/dames en veterane tot senior veterane, 1 000m en 100m; meesters 800m en 50m; en senior meester 65-plus, 400m en 50m.
Die amptelike seisoen strek vanaf September tot April.
In die SWD word verskeie byeenkomste elke seisoen aangebied: vier ligabyeenkomste, vier ontwikkelingsklinieke, asook ten minste twee interprovinsiale byeenkomste. Die byeenkomste roteer tussen George, Oudtshoorn en Mosselbaai. Die kleredrag vir ligabyeenkomste is die skool of klub se amptelike atletiek- en swemdrag. Provinsiale klere word net vir provinsiale geleenthede gebruik. Skole/klubs en atlete registreer en lisensieer by die eerste byeenkoms in Oktober van elke jaar.
Daar is ook tans ‘n skoleliga ingebou waar die twee beste laer-en hoërskole kan deurdring na die interprovinsiale en nasionale byeenkomste.
Tweekamp is ‘n sportsoort wat geweldig baie bied vir die deelnemer en betrek die hele gesin. Dit is ‘n sportsoort wat nie ouderdomgebonde is nie – daar is deelnemers van tot 80 jaar oud.
Die Highgate-volstruisvertoonplaas is die amptelike borg van SWD Tweekamp en die tradisionele Highgate interprovinsiaal waar agt provinsies deelneem, word as die Highgate Groter Oudtshoorn interprovinsiale tweekampbyeenkoms op 3 Februarie 2018 op Oudtshoorn aangebied. Die AJV van SWD Tweekamp vind op 17 Oktober op Oudtshoorn plaas. Daardie dag word ook die proewebyeenkoms gehou vir die kies van die SWD-spanne na die OP Interprovinsiaal in Port Elizabeth op 28 Oktober.
Die SA kampioenskappe word in Pretoria deur Gauteng-Noord Tweekamp aangebied op 31 Maart 2018.
* Navrae: Dave van der Walt 082 773 4901
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'