KNYSNA NUUS - Skietentoesiaste jonk en oud, man en vrou word genooi om die 2019 jaarprogram saam met Eden-jaggeweerskietvereniging af te skop wanneer dié sportliggaam sy eerste skietkliniek vir die jaar op Saterdag 2 Februarie naby Uniondale aanbied.
Volgens die vereniging se voorsitter Jacques Du Plooy gaan die kliniek fokus op die ontwikkeling van vroue en juniors in die sport in die Suid-Kaap, maar hy voeg by dat alle belangstellendes, "wat natuurlik die manne insluit", uitgenooi word om deel te neem.
"Kom maak van die geleentheid gebruik om meer van skiet se geheime wenke te kry en ook hoe om verder by die Formule 1 van skietsporte betrokke te raak," het Du Plooy gesê.
Skuts moet hulle eie jaggewere saambring met ongeveer 30 rondtes (koeëls) per persoon, en sal tydens die kliniek "touwys" gemaak word deur die vereniging se provinsiale en nasionale skuts. Die staan-, sit-, kniel- en lê-posisies sal in diepte gehanteer word, het hy gesê, en bygevoeg dat alle ruste en teikens voorsien sal word, en dat daar op staalplate geskiet sal word tot op 350m.
Die kliniek word by Louvain-gasteplaas in Bo-Langkloof, ongeveer 64km vanaf Oudtshoorn en 61km vanaf George, op die R62 in die rigting van Uniondale, om 09:00 aangebied.
"Bring iets om te eet en drink saam en genoeg sonskerm," het Du Plooy bygevoeg.
Skietentoesiaste word genooi om die Eden-jaggeweervereniging se skietkliniek volgende maand by te woon.
Vind meer uit
Vir meer inligting, kontak die vereniging se lede Junita van Zyl (082 575 9299) of Chisto Delport (079 498 6227).
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'