KNYSNA NUUS - Nomads Rolbal van Suid-Afrika en Eden Nomads Rolbal het saamgespan om ook hulle bydrae tot die verligting van die lot van Knysna se brandslagoffers te maak.
Tydens die pas afgelope Oesterfees-rolbaltoernooi op Knysna het Gerrie van Rensburg, uitgetrede president van Eden Nomads Rolbal, 'n tjek van R25 000 aan San Raubenheimer, president van Knysna-rolbalklub, oorhandig om die klub se noodfonds vir brandslagoffers 'n verdere hupstoot te gee.
Nomads Rolbal SA het R20 000 bygedra, terwyl Eden Nomads Rolbal R5 000 geskenk het.
Hierdie fondse is tydens Nomads-rolbaltoernooie landswyd vir liefdadigheidsdoeleindes ingesamel.
Twee lede van die Knysna-rolbalklub het hul wonings en besittings in die brande verloor terwyl verskeie ander klublede se besittings ook ernstige brandskade gely het.
Tydens die oorhandiging is aangekondig dat Van Rensburg eersdaags aan sy 26ste nasionale Nomads-toernooi gaan deelneem. Die toernooi vind vanjaar in Vanderbijlpark plaas.
Twee van die staatmakers van Nomads-rolbal, Gerrie van Rensburg (links) en Johan Havenga, saam met die president van Knysna-rolbalklub, San Raubenheimer, afgeneem tydens die Oesterfeestoernooi wat op Knysna gespeel is.
Johan Havenga, van die George-rolbalklub, is ook geloof vir sy jarelange verbintenis tot Nomads-rolbal. Op die ouderdom van 93 is hy tans die oudste aktiewe lid en speler van Eden Nomads Rolbal.
ARTIKEL: JANNIE MEYER, KNYSNA-PLETT HERALD KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'