TUINROETE NUUS - Die o.19A-, o.19B- en o.15B-krieketspanne van Hoër Landbouskool Oakdale het die naweek van 6 November behoorlik hul merk op die krieketveld gemaak.
o.19A-span
Die o.19A-span het teen Hoërskool Outeniqua te staan gekom op Oakdale-bodem. Oakdale verloor die loot en word ingestuur om eerste te kolf. Hulle behaal 244 lopies, vir die verlies van vyf paaltjies in die toegelate 50 boulbeurte.
Oakdale kolwers wat uitgeblink het was Francois Labuschagné - 67 lopies n.u.n., Pieter Marais - 67 lopies, en Arend Blom - 54 lopies. Met Oakdale boulers wat uitstekend presteer word Outeniqua uitgehaal vir 130 lopies in 46 boulbeurte. Erick Steyn, Pienie Pienaar en Zandré Conradie behaal almal twee paaltjies in hul boulbeurte.
Oakdale wen die wedstryd met 114 lopies.
o.19B-wedstryd
Tydens die o.19B-wedstryd kolf Outeniqua eerste en teken 85 lopies aan. Boulers wat hul knap van hul taak gekwyt het was Jan Heyns met vier paaltjies vir 13 lopies en Hennie Keyser met twee paaltjies vir 14 lopies. Oakdale steek die telling verby in die 16de beurt met sewe paaltjies plat. Beste kolwer: Albert Steyn met 22 lopies.
Oakdale wen die wedstryd met drie paaltjies.
o.15B-span
Oakdale se o.15B-span het die lang pad Beaufort-Wes toe aangedurf vir hul wedstryd teen Hoërskool Sentraal. 'n
Sentraal wen die loot op hul tuisveld en besluit om eerste te boul. Oakdale word uitgeboul vir 96 lopies in die 24ste boulbeurt. Oakdale se beste kolwer was Mardo Wasserman met 38 lopies. Sentraal word uitgeboul vir 81 lopies in die 21ste boulbeurt. Oakdale boulers wat uitgeblink het was Hanno Neethling met ses paaltjies vir 25 lopies in nege boulbeurte, asook Jandrian Goosen met vier paaltjie vir 22 lopies in agt boulbeurte.
Oakdale wen die wedstryd met 15 lopies. ’n Verdere hoogtepunt op dié uitstappie is jaarliks die stop by Meiringspoort en afkoel in die swempoel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'