EIENDOM NUUS - 'n Goeie stukkie raad vir 'n voornemende huiskoper is om so gou moontlik 'n stel planne van jou nuwe eiendom in die hande te kry om te verseker dat daar nie onnodige oponthoud in die registrasieproses opduik nie.
'n Plaaslike argitek, Marius Smith, sê hy kry gemiddeld twee gevalle per week waar hy die huis van 'n verkoper inderhaas op plan moet kry. Dit veroorsaak frustrasie vir almal betrokke omdat die transaksie nie afgehandel kan word nie.
Ook die argitek word onder geweldige druk geplaas, want die kliënt wil sy planne so gou as moontlik hê. Die munisipaliteit moet ook nog die opgedateerde planne goedkeur.
Verder het dit finansiële implikasies vir die huiseienaar. Wanneer daar nie planne is nie, hef die munisipaliteit 'n bykomende boete van drie maal die bouplanfooi. Een van Smith se kliënte moes byvoorbeeld 'n bouplanfooi van R5 375 betaal, plus 'n boete van R16 125, omdat daar nie planne was nie.
"Dit veroorsaak dat die kliënt ongelukkig is met die argitek. Ek wil graag hê huiseienaars moet ingelig wees hieroor."
Hy meen eiendomsagente kan help deur verkopers en kopers van meet af aan op die hoogte te bring.
George Herald het kers opgesteek by Marianne Lubbe, prinsipaal van Rawson Eiendomme in George. Lubbe sê dat hul koopkontrakte spesifiseer dat die verkoper wel planne beskikbaar moet hê.
"Ons maak wel 'n punt daarvan om te vra of die planne beskikbaar is wanneer ons 'n eiendom bemark, maar die onus val steeds op die eienaar. Soms is die verkoper net onkundig en dink hulle die huis is op plan, maar dit baat om doodseker te maak dat dit wel die geval is."
Tydens veral die eerste Covid-19-golf was daar 'n krisis toe die beplanningsdepartement by die George-munisipaliteit se personeel slegs aanlyn gewerk het.
"Dit het die aanvra van planne bemoeilik, maar dit het verbeter en die proses is eintlik nou makliker omdat planne elektronies gestuur word."
Sy beveel aan dat verkopers en kopers seker maak dat hulle 'n agent gebruik wat vir 'n betroubare agentskap werk en dat hy oor 'n getrouheidsfondssertifikaat beskik. Ingevolge nuwe wetgewing mag 'n agent nie diens lewer sonder hierdie sertifikaat, of registrasie by die Eiendomspraktisynsowerheid nie.
"Dié wetgewing, wat op 1 Februarie in werking getree het, stipuleer dat 'n agent nie betaling mag kry as hy nie die sertifikaat kan toon nie."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'