BEAUFORT-WES NUUS - Die dodetal in vanoggend se busramp naby Beaufort-Wes het tot tien gestyg.
Volgens inligting wat intussen bekom is, is 30 beseerdes na die hospitaal op Beaufort-Wes geneem.
Van hulle is reeds per helikopter na George gevlieg en daar is nog beseerdes wat deur die loop van die oggend na George afgevoer sal word.
Dit is onduidelik presies hoeveel mense in die bus was, maar voorlopige inligting dui daarop dat daar 49 was. Sover vasgestel kan word is nege passasiers nie beseer nie.
Die Beaufort-Wes munisipaliteit doen alles in hulle vermoë om die slagoffers by te staan. Die burgemeester, Noel Constable, is by die hospitaal om beseerdes te ondersteun.
Oorblyfsels van ‘n koedoe is ook naby die toneel gevind en daar word bespeigel dat die bus moontlik die koedoe getref het waarna dit die pad verlaat het.
Nooddienswerkers is steeds op die toneel.
Die bus was vanaf Kaapstad na die Oos-Kaap onderweg.
Die botsing het 53km buite Beaufort-Wes op die R61 tussen Beaufort-Wes en Aberdeen gebeur.
'n Beheerpunt is in plek by die toneel van die botsing om verkeer te reguleer.
- Inligting verskaf deur ons susterskoerant, Oudtshoorn Courant.
- Lees 'n vorige artikel: 8 sterf in gru-botsing
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Karoo nuus'