GEORGE NUUS - Die Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr, veg kliphard om die George-stadsaal se deure oop te beur vir die bekendstelling van sy nuwe album Skree, wat volgende Donderdag sou plaasvind.
Die George-munisipaliteit het laat weet hulle beëindig die verhuringsooreenkoms.
Hofmeyr en Jovan Heyns, 'n bekende plaaslike sanger, wat vir 'n deel van die konsert saam met hom sou optree, win tans regshulp in om die kansellasie teen te staan.
Dit volg na 'n brief van die ANC se sekretaris, Faiez Jacobs, aan die burgemeester en die munisipaliteit, waarin hy vra dat die munisipaliteit hulself van Hofmeyr distansieer. Hofmeyr is 'n kampvegter vir die regte van wit Afrikaners en het al voorheen in die sop beland met sy uitlatings op sosiale media.
Die konsert sou ten bate van 'n Christelike skool in George wees. Heyns sou in die middel van die konsert 'n paar Niel Diamond-liedjies saam met Hofmeyr sing. Volgens Heyns behoort hulle binnekort te hoor of hulle wel in die stadsaal sal kan speel. "Ons het nie op die stadium 'n ander plan nie," het hy gesê.
Hofmeyr se agent, Leeza Mulder, het nie op navrae gereageer nie en sy kon nie per selfoon bereik word nie.
Munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het gesê die munisipaliteit behou die reg om die verhuring van enige munisipale fasiliteit binne 48-uur te kanselleer.
"In hierdie geval het die munisipaliteit hul reg uitgeoefen," het sy gesê.
Edwards-Klose het nie redes verstrek vir hul besluit nie, en het ook nie gereageer op 'n navraag of die munisipaliteit dieselfde sou doen indien EFF-leier, Julius Malema, die stadsaal sou wou huur nie.
Jacobs het op dieselfde vraag geantwoord dat die ANC rassisme van oorde sal beveg en veroordeel. "Munisipale fasiliteite moet nie gebruik word deur diegene wat duidelik 'n rassistiese agenda het nie. Die ANC moedig die George-gemeenskappe aan om persoonlikhede soos Steve Hofmeyr, wat 'n rassistiese agenda wil bevorder, openbaar te maak. Ons moet brûe van vertroue en samewerking bou," het Jacobs gesê.
In 'n boodskap aan Heyns het Hofmeyr hom uitgespreek oor die situasie. Heyns het dit op sosiale media bekend gemaak: "Dankie vir soveel ondersteuning. Ek sal nie gesnoer word nie. Die konsert in George sal voortgaan. Daarmee eerbiedig ek die grondwet asook my kontrak met George se mense. Ek is g'n politikus nie. My kontrak as digter, met George en Suid Afrika, is om my mense te hoor. Om die digter te wees wat sing oor wat hulle pla.
"Om te mag prys en te mag kritiseer in 'n vry samelewing. As jy nie vreesloos kan staan voor die onderdrukkers van jou mense nie, is jy nie die naam 'kunstenaar' werd nie. Dieselfde regering wat die krete van sy bruin en wit mense eenvoudig ignoreer, kon altyd op hul kunstenaars vertrou om dit te verwoord en hulle wanhoop stem te gee. Mense kom nie na my konsert vir politiek nie. Hulle kom om te hoor of hulle nog mag bestaan."
Artikel verskaf deur ons susterkoerant, George Herald.
Lees die nuutste hier: Steve Hofmeyr konsert gaan voort
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'