MOTORNUUS - Riversdal se baasspeurder, Boer van Rensburg se goudgeel 1980 B1600 Mazda-bakkie is sinoniem met hom.
Ook nie verniet nie, want sedert sy pa Pieter die bakkie in 1980 by Tuinroete Motors (waar Rola Ford vandag is) gekoop het, het nog net pa en seun die bakkie op die oop pad bestuur. Al 150 000 km wat in die bykans 40 jaar afgelê is.
"My ma het nooit leer bestuur nie, en ek het maar altyd die ander kinders rondkarwei. Na my pa se dood in 1991 het ek die bakkie geërf. Ons seun Johannes stel nie juis daarin belang nie, maar ons dogter Anmarie het meer sin daarin."
Sy broer van Witsand leen darem partykeer die bakkie as daar moeilike terrein is om te takel. "Hulle vertel my die bakkie loop in los sand waar g'n 4x4 kan gaan nie. Een van die werkers sê juis ek mag nie die bakkie verkoop nie, want wat gaan hulle maak as hulle nie op 'n plek kan uitkom nie?"
Boer in die kajuit wat nog presies is soos dit uit die fabriek gekom het.
Die goudgeel bakkie is nog heeltemal oorspronklik, vertel Boer, adjudant-offisier en waarnemende hoof van Riversdal-polisie se speurtak. "Dit was die enigste Mazda-bakkie wat ooit die heldergeel geverf was."
Die paneelbord met die outydse goetertjies voer mens ver terug. Die handrem is nog een van daardie wat jy uit die paneelbord trek. Die rathefboom sit aan die stuurstang, net soos die hefboompie waarmee jy die flikkerligte aanskakel.
Die sigaretaansteker het nog nooit gewerk nie, want niemand het nog ooit in die bakkie gerook nie. Regs van die aansteker sit die smoorklep, of sommer net 'choke', soos meeste van ons dit ken.
Die bakkie word nog daagliks gebruik as Boer êrens heen wil ry, maar meestal stap hy na die Riversdal-polisiekantoor waar hy waarnemende speurhoof is. INLAS: Die lugverkoeler, die sigaretaansteker wat nog nooit gebruik is nie, en die smoorklep.
Onder die paneelkissie is daar ook 'n rak waarin ma se handsak sou kon pas. Sy vrou Susan, ry juis graag saam om hout vir die braaivuur te gaan haal.
Tot in die Kaap word Boer aan sy bakkie herken, en die bakkie aan hom. "Anderdag hou ek op 'n plek stil. Die lapswaaier kom dadelik nader en sê: Meneer Boer is dit jy? Moenie worry nie, ek sal mooi na meneer se bakkie kyk!"
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'