Hoewel die voorval nie te ernstig voorgekom het nie, het dit wel weereens aandag daarop gevestig dat Tuinroete-strande dikwels buite seisoentyd vele besoekers lok wanneer daar gereeld perfekte warm weer is, asof dit somer is.
Volgens bekende branderplankinstrukteur, Donovan Smith van Trip Out Surf School Knysna, voorheen ook 'n ervare lewensredder, het hy opgemerk dat die 11-jarige en 12-jarige boetie en sussie besig was om hulself onwetend in 'n systroom te begewe.
"Hierdie is veronderstel om 'n blouvlagstrand te wees, maar omdat dit buite seisoen is, was hier geen waarskuwingsvlaggies op om te wys waar dit veilig is om te swem nie en ook geen lewensredders aan diens nie," verduidelik hy. "Dus het ek opgehardloop na die lewensredderhuis wat net bo die strand is om 'n torpedo-boei te gaan kry en te vra of hulle dan nie sien wat besig is om te gebeur en hoor hoe die kinders gil nie? Toe het ek weer afgehol om die kinders te help en gesorg dat hulle albei aan die boei vashou en hulle uitgeswem. Ons kan nie verwag dat besoekers nes plaaslike mense moet weet waar die systrome loop nie - ons het dringend 'n bord nodig wat die strome aandui en wat mense wys waar dit onveilig is om te swem."
(Die area waarna Smith verwys is naby die rotse aan die ver-regse kant van die strand by die bootsleephelling.)
Nan Jamieson woon in die lewensreddershuis wat op die hoofstrand uitkyk en werk vir Baia Formosa Trading wat die tender gekry het om lewensreddingsdienste vir Knysna se strande te verskaf. Dié drie-jaarkontrak verstryk in Desember 2014. Sy sê dat sy wel bewus was van die situasie.
"Ons het gesien wat gebeur het," het Jamieson gesê oor die voorval. "Die pa van die kinders was die hele tyd by en dit was baie vlak. Na die tyd het hulle aangehou met swem, dus kon dit nie te erg gewees het nie."
Volgens haar moet sy binne seisoentyd toesien dat 38 lewensredders oor agt strande uitgeplaas word.
"Dit is 'n baie groot gebied en strek van Noetzie, Leisure Isle, Myoli in Sedgefield, Brenton-on-Sea, Buffelsbaai se twee strande, die riviermond asook Swartvlei," verduidelik Jamieson. "Ons het al daaroor gepraat om die tydperk wat lewensredders aan diens is te verleng, want soos wat nou gebeur het, moes ek 'n vrywilliger in die hande kry om te kom diens doen op die strand. Nie baie mense gaan te gretig wees om vir nege ure hul tyd gratis op te offer om as lewensredder hier te kom wag hou oor die baaiers nie."
Smith meen dat Buffelsbaai al hoe meer bekendheid verwerf en populêr raak.
"Tydens die Oesterfees het ek net een dag opgemerk dat hier 'n lewensredder aan diens was. Ons het strenger kontrole en beheer hier nodig want 'n potensiëel gevaarlike situasie ontstaan binne minute en dan is daar nie tyd om rond te skarrel om te probeer hulp ontbied nie."
Smith het al verskeie kere mense in nood uit die water gehelp omdat hy sy branderplanklesse op die hoofstrand aanbied en maklik sien wat aangaan.
Jamieson sê sy is gewillig om meer opleiding te doen. Sy het aan die begin van die maand glo 60 kinders van Cape Nature oor strandveiligheid opgevoed.
In kommentaar oor die insident en die klagtes wat daarna gevolg het, antwoord Knysna se munisipale bestuurder, Lauren Waring as volg: "Baia Formosa Trading was die suksesvolle tenderaar vir die verskaffing van lewensreddingsdienste op strande binne die munisipale gebied. Die dienste is egter slegs van toepassing tussen 15 Desember en 15 Januarie asook gedurende die Pase. Geen amptelike dienste word buite seisoen gelewer nie. Ons department verantwoordelik vir strande het reeds kwotasies vir nuwe kennisgewingsborde aangevra en dit sal eersdaags opgerig word."

Die vrywillige lewensredder, Ettienne Smith (27) van Buffelsbaai bespied die strand nadat hy ingeroep is om te kom diens doen, al is dit in die hartjie van die winter.
ARTIKEL: ANOESCHKA VON MECK, KNYSNA-PLETT HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Knysna | Tuinroete nuus'