GEORGE NUUS - Daar is 'n tipe kennis wat jy net kan opdoen deur jaar ná jaar op dieselfde stukkie kuslyn te staan. Jy neem waar hoe die wind met verloop van tyd vroeër begin draai, hoe die branders anders teen die rotse breek, hoe 'n eens bekende voetpaadjie losser onder jou voete begin voel.
Op die Tuinroete is visvang soms net soveel gefokus op die ritueel as op die vangs self. Dis die vroegoggend se stap na die rotse, verby bekende uitsigte, en die stilte wanneer jy jou aandag op die gety en die wind rig.
Hierdie ervarings word nie deur die Heroldsbaai-natuurreservaat bedreig nie. Dit word deur die reservaat beskerm.
Die reservaat se bestuursplan identifiseer die spesifieke area as ekologies belangrik. Dit bevat bedreigde plantegroei en bied 'n noodsaaklike buffer-area om die Maalgate–riviermond. Sonder gekoördineerde bestuur sal hierdie geïntegreerde landskap verswak en verbrokkel.
Sommige van die toegangsroetes na die rotse waar mense visvang is reeds deur erosie verweer. Informele paadjies het verbreed, gruis is losgewerk en sekere dele het onstabiel geword.
Daar is nou 'n werklike risiko om, onder verskeie toestande, te gly en te val. Wat 'n tydjie terug nog 'n eenvoudige afdraand was, is nou iets heeltemal anders. Sonder rehabilitasie kan die roetes nog gevaarliker word.
Terselfdertyd moet onthou word dat baie kusgebiede in die Wes-Kaap as residensiële ruimtes ontwikkel.
Wanneer ongerepte areas eers in behuising omskep word, word die natuur aangetas.
Die verklaring van Voëlklip tot natuurreservaat beskerm die kusstrook daarteen dat dit net nog 'n afgeslote behuisingslandgoed word.
Die reservaat bring ook struktuur en aanspreeklikheid in die bestuur van die landskap. Dit maak onder meer die volgende moontlik: die gekoördineerde verwydering van indringerplante, die beheer van erosie en wegkalwing van sensitiewe hange, asook effektiewe brandbestuur.
Laasgenoemde is veral belangrik vir 'n landskap waarin die natuurlike vuursiklusse reeds ontwrig is.
Terwyl rehabilitasie plaasvind, beoog die Heroldsbaai-natuurreservaat om toegang te reguleer deur middel van parkering en 'n "parkeer-en-stap"-stelsel (wat voertuigskade sal beperk) - maar toegang tot visvangplekke word behou.
Sulke maatreëls is dus nie 'n vorm van beperking nie, maar eerder 'n vorm van verantwoordelike bestuur wat die landskap vir die toekoms bewaar.
Van wesenlike belang is dat dit die stabilisering en opgradering van toegangsroetes moontlik maak sodat vissermanne steeds hul gunstelingplekke veilig kan bereik.
Daar is ook 'n wyer, gemeenskaplike verantwoordelikheid om in ag te neem.
Enigeen wat tyd langs die kus deurbring, weet wat soms daar agtergelaat word: aasbokse, vislyne, bottels en ander rommel. Die meeste vissermanne en families gee egter opreg om vir Voëlklip en sy geskiedenis, én is trots daarop dat hulle al vir geslagte daar visvang.
As ons wil hê die kuslyn moet oop en veilig bly, moet daardie trots sigbaar wees. Dit kan bewerkstellig word deur die landskap onverstoor en onverstrooi agter te laat.
As ons die paadjies verbeter, die grond teen onbehoorlike ontwikkeling beskerm en Voëlklip en Maalgate met sorg benader - dán sal die eenvoudige vryheid om met 'n stok in die hand op die rotse te staan bly wat dit nog altyd was: vreedsaam, oop, beeldskoon en blywend.
Sulke bewaring is nie iets wat van buite af opgelê word nie. Dit is eerder gemeenskapsgeleide bewaring wat verseker dat Heroldsbaai vir geslagte lank deur álmal geniet kan word.
Deur Jan Vreken, direkteur: Heroldsbaai-natuurreservaat
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’