Meer as 3 000 hoërskool- en 130 laerskoolleerders in die provinsie het deel van die statistiek in 2014 gevorm. Dit is nie beperk tot enige ras of ekonomiese of sosiale status nie.
Laevelder het by ‘n 16-jarige dogter wat tans sowat ses maande swanger is, gaan uitvind hoe dit haar lewe verander het.
Daleen kan nou gemaklik daaroor praat, maar ses maande gelede toe dié gr. 10-leerling vir die eerste keer met die realiteit gekonfronteer is, was dit allermins die geval, erken sy openhartig.
“Dit voel alles so onwerklik. Nie vir een oomblik dink jy dat so iets met jou kan gebeur nie.
“Maar dan tref die harde werklikheid jou en jy weet daar is net een manier en dit is dat dat jy daarmee moet deal.”
Haar grootste vrees was om die nuus met haar ma te deel. “Hoe gaan ek dit vir my ma sê?” het ek myself oor en oor gevra.
In Daleen se geval het haar ma dit egter vermoed en het sy ook die ondersteuning van haar kêrel gehad wat dinge “effens makliker” gemaak het.