Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - As daar iemand is wat weet hoe gevaarlik dit is om 'n brandweerman te wees, is dit Deon Stoffels, die nuwe brandweerhoof van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit.
Hy het in 2008 'n noue ontkoming gehad en was saam met kollegas in 'n lewensgevaarlike situasie toe hulle gehelp het om 'n huis in die Gouritzgebied teen ’n brand te beskerm.
"Die vuur het soos golwe aangekom en ons omsingel. Ons kon nie deur die bosse ontsnap nie en ons moes op die grond skuil. Dit was 'n skrikwekkende ervaring," het hy Maandag 7 November in 'n onderhoud met George Herald gesê.
Destyds het kollegas aanvanklik gedink die ergste gaan gebeur, maar gelukkig het hulle oorleef.
Stoffels se passie vir die werk het toe reeds geblyk, want nadat hy en sy kollegas klaar was by die huis, het hulle nie onttrek nie. Hulle het daarna voortgegaan om brande in die gebied te blus.
Stoffels het ook van die lang pad wat hy geloop het tot sy huidige pos in die onderhoud gedeel. Hy is gebore en getoë in George en het as leerder by Laerskool Geelhoutboom eenkeer gehelp om 'n bergbrand te blus.
Dis waar die saadjie vir sy loopbaan as klein seuntjie geplant is. In 2000 het hy sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Pacaltsdorp voltooi en eers vir 'n paar jaar in die privaat sektor gewerk.
In 2008 het hy by die destydse Eden-brandweer aangesluit as 'n kontrakbrandweerbeampte. In Julie 2011 is hy permanent aangestel. Oor die jare het hy aanhou kursusse gedoen en verder studeer om homself te bemagtig as brandweerman.
Stoffels het benadruk dat kwalifikasies alleen is nie genoeg is nie. Kundigheid en ook passie is noodsaaklik om die werk suksesvol te kan doen.
Sy lewensfilosofie is dat mens 'n passie vir iets moet hê. Hy glo ook aan spanwerk. Brandbestryding en wat daarmee gepaard gaan, is nie net die verantwoordelikheid van die brandweer nie. Alle entiteite en rolspelers soos byvoorbeeld grondeienaars moet betrokke wees.
Hy het gesê die streek het bepaalde uitdagings. Die gebied is histories bekend vir sy veldbrande. Daar is ook indringerplante en dit sal nooit ten volle uitgeroei kan word nie. Dit moet goed bestuur word.
VIDEO: Nuwe brandweerhoof gesels
Hy wil sien dat inwoners veilig voel en daar nie skade aan hul eiendom is. "Ek sal wil sien dat bos- en veldbrande nooit wildevure word nie."
Stoffels wil uitreik na die gemeenskap en glo hulle moet ingelig word. Sy liefde vir sy werk hou verband met sy liefde vir die buitelewe. Hy glo aan 'n balans tussen werk, sy gesin en sport soos onder meer rugby. Hy is 'n gesinsman met 'n pragtige vrou, Mystique en die paartjie het twee kinders.
Stoffels is ook betrokke by Evergreens-rugbyklub en sosiale 7's en 10's spanne.
Advies vir mense oor brande:
• Brande kan verhoed word, tree dus voorkomend op;
• Kyk na die veiligheid by jou eie woonplek;
• As iemand vullis wil verbrand of braai, vergewis jou eers van die wind;
• Sou 'n brand ontstaan, bel so gou moontlik die brandweer;
• As iemand toegang het tot brandbestrydingstoerusting leer vooraf hoe om dit gebruik en gebruik dit dan in 'n brandsituasie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'