TUINROETE | KAROO NUUS - Lede van die landelike blitspatrollie, het op 16 Julie 'n voertuigkontrolepunt langs die N12 naby Oudtshoorn gehou toe hulle 'n sedan afgetrek het.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het die patrollie 50 Mandrax-tablette en 37,22 gram tik onder die bestuurder se sitplek gevind.
Die verdagtes, albei 28 jaar oud, is op die toneel gearresteer. Hulle bly in aanhouding tot hulle in die hof vir die besit van dwelms sal verskyn.
Spies sê ook dat die Knysna-polisie en Wes-Kaapse provinsiale verkeersdepartement op 16 Julie 'n gesamentlike voertuigkontrolepunt op die N2 gehou het.
Volgens hom is daar 65 voertuie gestop en ondersoek en het die verkeersdepartement sewe boetes ter waarde van R8 000 vir verkeersoortredings uitgereik.
Genl. Maj. Norman Modishana, Tuinroete-gebiedsbevelvoeder, het dié lede wat betrokke was bedank vir hulle waaksaamheid om dié gemeenskappe teen dwelms te bewaar.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'