SEDGEFIELD NEWS - Met armoede en werkloosheid wat landswyd toeneem, wil Solidariteit Helpende Hand ook nou in Sedgefield ingryp deur 'n plaaslike tak te stig. Hierdie tak sal deel vorm van Helpende Hand se meer as 160 takke landswyd.
"Ons wil graag hoop en verligting aan die behoeftiges in die Sedgefield-gemeenskap bring," sê Alisha de Lange, die organisasie se streeksorganiseerder in die Wes-Kaap. "Om vir 'n kind hoop te skep, om 'n jongmens te help studeer, of om 'n bejaarde te bederf – dít is wat vir ons belangrik is."
Helpende Hand het verskeie nasionale projekte wat behoeftiges – van baba tot bejaarde – se armoede verlig, voorkom en verbreek. Daarby loods elke tak ook plaaslike projekte op grond van die behoeftes wat in die gemeenskap geïdentifiseer word.
Projekte wat Helpende Hand graag in Sedgefield wil vestig, sluit in die nasionale Skooltassieprojek waartydens duisende tasse elke jaar aan behoeftige graad 1-leerders regoor die land uitgedeel word, voeding aan kleuterskole waar dit swaar gaan, asook sanitêre ware aan dogters.
Die organisasie help ook met tersiêre opleiding na skool. So is pas R42-miljoen aan rentevrye studielenings uit betaal om studente in 2020 'n kans te gee om 'n naskoolse kwalifikasie te bekom.
"Helpende Hand is nie 'n organisasie wat net voortdurend kos en klere uitdeel nie," sê De Lange. "Ons wil individue en gesinne ophef en in staat stel om hul eie lewensomstandighede te verbeter. Ons wil nie 'n klimaat van afhanklikheid daarstel nie, maar eerder persone help om vir hulself 'n beter toekoms te verseker."
Enige persoon wat graag by Helpende Hand se Sedgefield-tak betrokke wil raak, kan 'n e-pos stuur aan alisha@helpendehand.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Sedgefield, Tuinroete nuus'