Breaking News
TUINROETE NUUS- 'n Mosselbaaier is vandag in hegtenis geneem as deel van 'n internasionale ondersoek in die Wes-Kaap na vervaardigers, verbruikers en verspreiders van kinderpornografie.
Polisiebeamptes verbonde aan die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS), het vanoggend die 25-jarige man by sy woning op Mosselbaai aangekeer.
Die verdagte is reeds die vierde vermeende seksoortreder, wat in die provinsie in hegtenis geneem is in 'n gesamentlike operasie deur die polisie se eenheid vir Reeks- en Elektroniese Misdaad en die Amerikaanse Departement Van Binnelandse sake (Homeland Security Investigations van die Amerikaanse Ambassade).
Die ander drie verdagtes, almal mans, is verlede week in onderskeidelik Worcester, Kraaifontein en Mitchells Plain aangekeer.
Die Mosselbaaier is die agtste verdagte, wat sedert November as deel van dié landswye ondersoek in hegtenis geneem is.
Hy bly in aanhouding by die Mosselbaai-polisiestasie en sal Maandag in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van kinderpornografie. Die staat het aangedui dat sy borgaansoek teengestaan sal word.
Mosselbaai se polisiebeamptes wat aan die GKS-eenheid verbonde is, ao Alistair Rezant, kapt Franco Bestbier en ao Soretha van Zyl, het vanoggend die verdagte by sy woning in Da Nova gaan haal.
Bevelvoerder van die Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, kapt Franco Bestbier en ao Soretha van Zyl stap na die aanhoudingselle waar die man in aanhouding sal bly op aanklagte van die besit van kinderpornografie. Foto: Louise Karsten
Die verdagte is na die aanhoudingselle by die Mosselbaai-polisiestasie begelei. Hy het bleek voorgekom en het 'n geel kappietop en swartbroek gedra.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se ondersoekende sielkunde-afdeling is ook by die gesamentlike operasie betrokke.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’