KNYSNA NUUS - Vir baie bejaarde inwoners in Knysna se minderbevoorregte gemeenskappe het die laaste Woensdag van elke maand ’n datum geword waarna hulle met groot verwagting uitsien.
Dit is die dag waarop Changes of Knysna, ’n gemeenskapsorganisasie in Hornlee, sy maandelikse bederfdag vir bejaardes en mense met gestremdhede aanbied.
Op Woensdag 28 Oktober is die laaste bederfdag van die jaar weer by die Hornlee-gemeenskapsaal gehou, waar sowat 100 inwoners ’n heerlike dag van bederf en samesyn geniet het. En wat ’n feestelike geleentheid was dit nie!
Want dié dag gaan oor veel meer as net ’n warm bord sop.
Vir diegene wat dit bywoon, is dit ’n geleentheid om uit die huis te kom, ’n warm ete te geniet, saam met vriende oor ’n koppie tee of koffie te kuier en, dalk die belangrikste van alles, weer te voel dat daar na hulle omgesien word en dat hulle waardeer word.
“Ons behandel hulle met waardigheid,” sê Charmaine Sinclair, stigter van Changes of Knysna.
Die organisasie bied ondersteuning aan bejaardes en mense met gestremdhede in Hornlee en omliggende gebiede, waaronder Nekkies, Damsebos, Oupad en Kaalkol.
Een van die hoogtepunte van die dag is egter die bederfsessies, waartydens vrywilligers help om inwoners se hare te versorg, hul voete te was en in te smeer. Inwoners kan ook hul bloeddruk laat meet.
Louisa Fredericks sê die inwoners is opreg dankbaar vir die heerlike bederfies en die vriendelikheid waarmee almal behandel word.
“Ek dank die Here dat Hy so ’n geleentheid oor ons pad gestuur het. Dit gee ons die kans om iets te ontvang wat ons andersins nie noodwendig sou kon bekostig of geniet nie.”
Cheryl Kemp stem saam en sê die bederfdag is vir haar en ander inwoners baie spesiaal.
“Dit is iets waarna ons ongelooflik baie uitsien. ’n Mens raak soms maar eensaam, en ’n dag soos hierdie gee weer nuwe energie en bring vreugde in ons lewens.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’