KNYSNA NUUS - Knysna se nuwe burgemeester, Mark Willemse, het die DA-leierskap om uitstel gevra sodat hy regsadvies kan inwin oor die twee poste wat hy tans beklee.
Willemse is verlede Woensdag (6 Junie) tydens 'n spesiale raadsvergadering as burgemeester van Knysna ingestem. Hy beklee egter ook die pos as Eden-spreker.
Die DA-party se Wes-Kaapse leier, Bonginkosi Madikizela, het gesê Willemse kan volgens wet nie beide posisies beklee nie. "Willemse is gevra om as Knysna-burgemeester te bedank, waarna die onderburgemeester sal waarneem tot 'n nuwe burgemeester aangestel word," het Madikizela gesê.
Madikizela het laat blyk dat die DA-leiers nie die mosie van wantroue teen die vorige burgemeester, Eleanore Bouw-Spies te wagte was nie. Die party was glo nie in kennis gestel van al die planne nie. "Dit sal nooit vir enige lid van die party aanvaarbaar wees om besluite te neem wat so 'n groot gevolg het, sonder om die party daarvan te verwittig nie," het Madikizela gesê.
Willemse het verlede Vrydag (8 Junie) uitstel tot Saterdagoggend (9 Junie) ontvang om as burgemeester te bedank. Hy het die party blykbaar ingelig dat hy langer tyd nodig het om regsadvies in te win.
Willemse is dit eens dat hy nie beide Eden-speaker en Knysna-burgemeester kan wees nie. "Dit is onmoontlik om beide posisies te beklee. My eerste belang is egter in Knysna, waar ek as DA-raadslid dien. Dit is waar my belange lê," het hy gesê. Hy het vroeër gesê hy is 'n lojale DA-lid en dat die mosie van wantroue teen Bouw-Spies 'n gewetensbesluit is, weens haar swak bestuur van die munisipaliteit en die DA-party.
Madikizela het gesê die "gewetensstem" word betwyfel omdat Willemse direk voordeel daaruit trek. Volgens Madikizela het Willemse en sy kollega Peter Myers 'n afdeling in die grondwet van die party oortree toe hulle die ANC na bewering gemobiliseer het om teen die burgemeester te stem.
Wes-kaapse DA-leier Bonginkosi Madikizela.
Hoe het dit gebeur?
Die DA (2), ANC (7), Cope (1) en 'n verteenwoordiger van die KUC (Knysna United Congress) het saamgespan om Eleanore Bouw-Spies uit die stoel te lig. Bouw-Spies is met 11 stemme teen een as burgemeester uitgestem, nadat die ANC-raadslid Victor Malosi 'n mosie van wantroue in die burgemeester ingedien het. Die DA bly egter aan bewind en is dit nie ‘n bewindsoorname nie.
Agt DA-raadslede en twee koalisieparty-raadslede ('n onafhanklike en 'n ACDP-raadslid) het die vergadering tydens die verrigtinge verlaat. Twee oorblywende DA-raadslede, Willemse en Peter Myers, het saam met die res ‘n kworum gevorm en ten gunste van die mosie gestem, terwyl die Knysna-speaker, Georlene Wolmarans, ook 'n DA-raadslid, teen die mosie gestem het.
Willemse is as burgemeesterskandidaat deur DA-raadslid Peter Myers aanbeveel, en is gesekondeer deur die ANC-hoofsweep Mertle Gombo. Elrick van Aswegen (Cope) is tans die onderburgemeester en Georlene Wolmarans (DA) is steeds die Knysna-speaker.
DA-leiers is vies
Madikizela het van die staanspoor sy misnoeë oor dié wending uitgespreek. Hy en die party se streeksvoorsitter, Jaco Londt, is verlede Donderdag na Knysna om met die DA-koukus te vergader.
Londt bevraagteken die wetlikheid van hierdie skuif. Hy het gesê die prosedures is foutief hanteer. "Twee DA-raadslede het besluit om vir ‘n ANC-mosie van wantroue in die Knysna-burgemeester te stem. Hierdie skuif is nie alleenlik verraad aan die DA nie, maar is hoogverraad aan die mense van Knysna," het Londt gesê. "Geeneen van hierdie raadslede het die beste belange van die mense in gedagte gehad, vir wie hulle dien, toe hulle hierdie besluit geneem het nie. Hulle was kortsigtig en het net aan hul eie belange gedink."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'