Update
KNYSNA NUUS - Die Knysna-polisie het ’n saak van roekelose en nalatige bestuur geopen ná ’n ernstige tref-en-trap-voorval waarin ’n voetganger, Amy Lee Slabithla laat op die aand van Vrydag, 20 Desember, beseer is.
Die voorval het omstreeks 22:00 op die N2-snelweg naby Oupad in Knysna plaasgevind.
Volgens adjudant-offisier Christopher Spies het polisielede patrolliediens verrig toe hulle twee voetgangers in die middel van die pad aangetref het.
“Volgens amptelike verslae het Knysna-polisielede patrollies uitgevoer toe hulle twee voetgangers in die middel van die pad gevind het,” het Spies gesê.
Hy het bevestig dat een van die slagoffers ernstige beenbeserings opgedoen het. “Sy is later per ambulans na ’n plaaslike hospitaal vervoer.”
Soos voorheen berig op die Knysna-Plett Herald se webblad, is Amy Lee (16) se regterbeen geamputeer as gevolg van die ernstige beserings wat sy in die tref-en-trap-ongeluk opgedoen het.
Die tweede voetganger het glo ligter beserings opgedoen, maar verdere besonderhede is nie bekend gemaak nie.
Die omstandighede rondom die voorval word tans deur die polisie ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting wat kan help met die ondersoek, word versoek om die Knysna-polisie te kontak by 044 302 6609.
Vorige artikel:
Knysna-tiener ernstig beseer in vermeende tref-en-trap op N2 | Knysna-Plett Herald
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’