KLEIN KAROO NUUS - Dit is weer tyd vir die Dryland Travese-wedloop. Hierdie vierdaagse stadiumwedloop, wat die ikoniese roetes van die Klein-Karoo uitlig, het vinnig 'n gunsteling onder Suid-Afrikaanse hardlopers geword.
Die avontuur begin op unieke wyse met 'n ondergrondse wegspring in die wêreldbekende Kangogrotte, die enigste geleentheid waarvoor deelnemers toestemming kry om deur hierdie natuurwonder te hardloop.
Die daaropvolgende skofte neem deelnemers oor die majestueuse Swartbergberge, 'n Unesco Wêrelderfenisgebied, met asemrowende uitsigte oor die Groot- en Klein-Karoo, asook roetes wat verby die bekende Raubenheimerdam kronkel.
Daar is eenvoudig geen ervaring wat die unieke gees, die gevoel van prestasie en die natuurskoon van hierdie gebeurtenis kan ewenaar nie - die Rhodes Dryland Traverse is 'n móét vir elke avontuurlustige deelnemer!
Wedloopprogram
Die Dryland Traverse se eerste skof skop vandag, Donderdag 30 Oktober om 16:30 by die Kangogrotte af.
Die eerste skof se afstand is 'n sirkelroete van 9,5 km. Skof twee vind plaas op Vrydag 31 Oktober van die Ou Tol na De Hoek met 'n afstand van 27,3 km en begin om 07:45.
Die beginpunt is by die Ou Tol op die Swartbergpas en die eindpunt by die De Hoek-bergoord. Die skof staan bekend as die koningskof met afdraandes, steil opdraandes en 'n asemrowende uitsig oor die Swartberge en Karoo.
Skof 3 vind Saterdag 1 November om 09:00 plaas oor 'n afstand van 24,1 km, met die beginpunt by De Kombuys-wynlandgoed en die eindpunt by die De Hoek-bergoord. Hierdie roete word beskryf as 'n pragtige roete tussen die wynlande, bergpaadjies en rivierstrome - 'n kombinasie van uitdaging en natuurskoon.
Die laaste skof, skof 4, vind op Sondag 2 November plaas met die begin- en eindpunt die De Hoek-bergoord. Hierdie skof is 'n feestelike afsluiting met korter roetes rondom De Hoek, ontwerp om deelnemers hul medaljes met trots te laat verdien.
Atlete by die Kangogrottte tydens die 2024 Dryland Traverse.
Die Dryland Traverse neem atlete onder andere deur die pragtige Karoo. Fotos: Fanus Oosthuizen, Oakpics
Atlete geniet die natuurskoon tydens die jaarlikse Dryland Traverse.
Die Kangogrotte vorm deel van die Dryland Traverse en is 'n besonderse ervaring vir atlete.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’