KNYSNA NUUS - Oud-leerders van Knysna Senior Sekondêre Skool - bekend as die Loeries - het onlangs hul 40ste reünie gevier. Die groepie 1985-matrikulante het die spesiale byeenkoms by Groenvlei (Lake Pleasant) in Sedgefield bygewoon.
Die geleentheid is gereël deur Deline Stuurman, Sylvia Clephas en Sharon Damons. Oud-klasmaats het van regoor die land - insluitend Johannesburg, Kaapstad, Oos-Londen, George en Oudtshoorn - gekom om saam te kuier en herinneringe te deel.
Kuiernaweek
Vrydag se verwelkoming is afgeskop met drankies, versnaperinge en 'n heerlike potjiekos-aand waar daar baie gelag is en stories van hul skooldae vertel is.
Saterdagoggend het die groep 'n rustige bootvaart op Swartvlei-meer geniet, en die dag is afgesluit met 'n gesellige braai en 'n lewendige 1980's disko.
Sondag het die afsluiting by die Hornlee-koshuis plaasgevind met 'n dankseggings-diens gelei deur pastoor Saul Thomas. Ander oud-leerders soos Fiona Miles, Rachel Manuel, Joan Stander en Lenie Kolbee het ook deelgeneem.
Ballonne is vrygelaat ter nagedagtenis aan ontslape klasmaats, insluitend Susan Simmers (Rhoode), wat kort voor die reünie oorlede is. "Ons wil graag ons innige meegevoel betuig aan haar man, Clifton Simmers (ook 'n oud-leerder), haar kinders en die res van die familie," sê Angeline Williams.
Die groepie oud-leerders bedank die organiseerders en almal wat 'n aandeel gehad het aan die sukses van hierdie spesiale naweek. "Ons hoop om mekaar binnekort weer te sien. Almal was dit eens dat hulle sommer baie gou weer bymekaar wil kom," sê Williams.
'n Vrolike klompie oud-leerders van Knysna Senior Sekondêre Skool by Groenvlei, waar hul 40ste matriekreünie plaasgevind het.
Ballonne is die Sondag vrygelaat ter nagedagtenis aan ontslape klasmaats.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’