Alhoewel die vyf vroue, Saptoe, Rachel Pietersen, Lorriane van Rooyen, Magrieta Adams en Maria Sass se besigheid floreer, is daar wel nog 'n paar struikelblokke wat hulle moet oorwin. "Daar was moeilike tye waar ons kop uit wou trek, ons sakke wou vat en loop, maar ons hou moed," vertel Saptoe. Die besigheid, Rheenendal Prospects Agric is in Julie 2010 gestig met hulp van die Knysna Munisipaliteit. "Die munisipaliteit het 'n advertensie geadverteer waar hulle spesifiek werklose mense uitnooi wat beoog het om hul eie klein besighede te stig. Sass het dit goed gevind om ons almal te nader om aansoek te doen dat ons projek op die been kan kom," vertel 'n glimlaggende Magrieta Adams.
"Ons het besluit op 'n kwekery en wurmplaas omdat hier nie so iets is in Rheenendal nie. Nou hoef die gemeenskap nie meer George toe te ry vir verskeie plante nie. Hulle kan nou net hier koop," vertel Pietersen.
Hierdie vroue word tans deur die Nasionale Ontwikkelingsagentskap geborg. Elk van hulle ontvang tans 'n toelaag by die agentskap. Die toelaag is vir 18 maande geldig. Die vroue meen dat hul grootste uitdaging finansiering is.
"Ons maak staat op die befondsing wat ons ontvang vanaf die agentskap. Ons het vir sowat vyf maande gewerk, sonder dat ons self 'n salaris verdien het, maar ons het moed geskep en so voortgegaan. Ons is regtig dankbaar vir die toelaag wat ons tot dusver ontvang het," verduidelik Saptoe. Hierdie vroue moedig die groter gemeenskap aan om hul plaaslike besigheid te ondersteun. "Die projek is nie net vir ons eie beswil nie, maar ook vir diegene in die gemeenskap wat ook werkloos is, omdat ons van tyd tot tyd tydelike werksgeleenthede vir verskeie persone skep," vertel Pietersen. "Ons sukkel nie net soms met finansies nie, maar ook met tieners wat kriminele dade pleeg. Ons besigheid is al talle kere gevandaliseer; plante sowel as ons groente word ook gesteel. So, ons ander probleem is sekuriteit. Ons het 'n saak geopen en die polisie stel tans ondersoek in," vertel Saptoe.
Lianda Fourie van Red Door, wat 'n groot impak op die vroue se loopbaan en besigheid het, het gesê, "Die hoogtepunte wat hierdie vroue in die korttermyn bereik het, is indrukwekkend. Om te dink toe hulle eersdaags begin het met hierdie besigheid, het hulle geen vaardighede of ondervinding in hierdie bedryf gehad nie. Nou weet hulle hoe om hul eie 'n kwekery sowel as 'n wurmplaas te bestuur, hoe om 'n skootrekenaar te gebruik sowel as hoe om administratiewe werk te doen. Ek is regtig so trots op hulle, en wil graag sien dat hulle besigheid sukses behaal op 'n plaaslike vlak."
"Ek wil die publiek aanmoedig om die vroue se besigheid te gaan besoek op Rheenendal. As hulle nie persoonlik gaan kuier nie, sal hulle nie weet hoe pragtig dit daar is nie of hoe merkwaardig die hele projek en die vroue se harde werk is nie. Dit is regtig ongelooflik," vertel Fourie.
"Ons sal nie nou moed verloor nie. Waar daar eers net grond was, is daar nou soveel lewe, soveel kleur en liefde. Ons het 'n ware passie vir wat ons doen, en ons verlang net na ondersteuning en hulp van die gemeenskap om als te laat groei. Ons wil 'n sukses maak van dit wat ons aangepak het. Met dit wat ons doen, vertel ons vir die mense dat enige iets moontlik is al gaan dit ook hoe moeilik," vertel Pietersen.
"Eerstens, baie geluk aan hierdie dames dat julle reeds so ver gevorder het met julle besigheid. Julle is 'n goeie voorbeeld vir die res van die gemeenskap en wys almal dat selfs al lyk dit asof daar nie veel geleenthede beskikbaar is nie - as jy die nodige wilskrag, deursettingsvermoë en selfdisipline aan die dag lê, kan jy sukses behaal," het Georlene Wolmarans, uitvoerende burgemeester van Knysna gesê.
"Ondersteun asseblief hierdie dames - onthou dat geld wat in die gemeenskap spandeer word, in die gemeenskap bly en vermenigvuldig soos dié wat betaal word, weer die geld by ander spandeer."
Wolmarans het verder gesê "Ons kyk ook na ander geleenthede om die dames te ondersteun en hulle besigheid te bemark. Ek wens hulle sterkte toe vir die toekoms. Onthou, probleme is deel van besigheid doen en as daar dalk iets opduik wat in julle pad staan, vind 'n oplossing en werk daaraan met dieselfde passie wat julle tot nou toe getoon het. Ons is trots op julle."

Só lyk die wurmplase wat deur vyf vroue van Rheenendal bestuur word sedert Julie 2010. Hulle verkoop kompos asook verskeie plante en bome.