KNYSNA NUUS - Swartvlei Seekamp is 'n gebiedskamp vir laerskoolleerders wat deur Die Voortrekkers Transvaal aangebied word en plaasvind by Swartvlei in Sedgefield. Hierdie jaar vind die kamp vir die 25ste keer plaas, vir ongeveer 660 mense.
Swartvlei is ook by verskeie gemeenskapsdiensprojekte betrokke. Baadjies vir Maatjies is 'n projek in samewerking met Fresh Start, waardeur kinders hulle warm baadjies wat nie meer gebruik word nie, aan 'n minderbevoorregte maatjie skenk.
Op Vrydag, 7 Julie het Swartvlei met 'n bus na Sedgefield Primary School in Smutsville gegaan om hierdie skenkings te gaan oorhandig. Die ontvangers van hierdie skenkings het ook deel gehad aan die 25ste verjaardagpartytjie wat op die kamp gehou is.
Die graad 7’s het Rebuild Eden Sedgefield gaan help om skenkings in een van die vele pakhuise te sorteer sodat dit aan gemeenskappe gestuur kan word wat deur die brande geraak is. Daar is sóveel skenkings ontvang dat die mense betrokke nie genoeg hande gehad het om die werksvrag te hanteer nie en met oor die 130 gewillige hande, is dié groot werk aansienlik vinniger afgehandel. Swartvleikamp verskaf elke dag kos aan Rebuild Eden se vrywilligers.
Die logistiek verbonde aan so 'n kamp is enorm en word maande vooruit beplan. 'n Week voor die tyd begin die kamp vorm aanneem wanneer die voorspan begin om tente op te slaan en kry 'n leë kampterrein karakter. Al die slaaptente vir die kinders, die divisietente vir die kursusse wat aangebied word en karavane vir die volwassenes staan gereed wanneer ses busse vanuit Pretoria en Johannesburg hier arriveer en die kamp in volle erns kan begin.
Lees meer in Donderdag se Knysna-Plett Herald of aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'