Die geleentheid is Saterdagoggend, 10 November, aangebied by die sentrum. Vermont Ouetehuis sukkel elke maand om sy boeke te laat klop en elke fondsinsamelingsgeleentheid is noodsaaklike poging om hul nood te verlig.
Daar sal nog lank gepraat word oor die ontbyt wat Nico Louw geskenk het ten bate van die ouetehuis. Dit was heerlik en vullend en is aangebied teen slegs R30. Die kaartjies was teen tienuur uitverkoop! Daar is 123 onbyte verkoop en 69 daarvan is gratis verskaf aan personeel en vrywilligers. Die ontbyt het ongeveer R7 500 ingesamel.
Lootjies was beskikbaar vir 'n kans om 'n geelhoutskinkbord, 'n kaasbord of tuinliggies los te slaan. Daar is ongelukkig nog nie genoeg lootjies verkoop nie en dié projek duur voort.
Die inwoners van Vermont het handwerk gemaak en koek gebak met bestanddele wat deur die gemeenskap geskenk is. Die Knysna Metodistekerk het die pannekoektafel beman en daar was 'n berg vars vruge en groente, geskenk deur die gemeenskap. Louw het weereens 'n beroep gedoen op die mense van Knysna om 'n draai te gaan maak by Vermont en self te sien wat daar verrig word en sodoende eerstehands te ervaar wat onbaatsugtige diens beteken.
"Ons het die groter gemeenskap van Knysna se ondersteuning nodig vir hierdie noodsaaklike fasiliteit vir bejaardes. Vermont is 'n baken van hoop en liefde en die 50 inwoners word versorg en op baie vlakke bedien. Ons wil dit so hou en uitbou, maar dit gaan meestal oor oorleweing en Vermont kom maandeliks R40 000 kort."
Enigiemand wat betrokke wil raak by Vermont Ouetehuis en Dienssentrum in Hornlee, kan Nico de Vos skakel by 044 385 0593, Alice Levendal by 082 899 8783 of Nico Louw by 082 899 8783.
Klik hier vir fotogalery.

Deidre Innes, Dorothea Bowi en Jeanetta Bow by die wit olifanttafel by Vermont se basaar op 8 November. Daar was heelwat te kies en te keur.
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'