Sommige wil of kan ook nie tyd afstaan om dit te doen nie en is van mening dat daar baie rompslomp by betrokke is, sê Berrie Botha, uitvoerende hoof van Sanlam Trust.
Maar een ding is seker: ongeregistreerde saamwoonverhoudings hou ernstige risiko’s in vir een of albei van die partye.
Om ‘n saamwoonverhouding (burgerlike vennootskap) van dieselfde en/of teenoorgestelde geslag te registreer moet die volgende stappe geneem word:
- Beide persone moet agttien jaar of ouer wees;
- Beide persone mag nie reeds in terme van enige ander Wet getroud wees nie, insluitende ‘n ander burgerlike verbintenis;
- Oor geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente beskik. Indien een van die persone ‘n buitelander is, dan ‘n geldige paspoort;
- ‘n Egskeidingsbevel indien een of beide persone geskei is of ‘n sterftesertifikaat van die oorlede gade of vennoot indien van toepassing op een of beide persone.
Wanneer die voorafgaande dokumente beskikbaar is en aan al die vereistes voldoen is, moet die twee persone ‘n amptelik aangewese huweliksbevestiger nader. Hierdie huweliksbevestiger sluit, onder meer, ‘n bereidwillige predikant in of ‘n aangewese amptenaar wat by die departement binnelandse sake of by ‘n landdroskantoor werk.
Dit moet duidelik aan die huweliksbevestiger gestel word dat ‘n burgerlike vennootskap geregistreer moet word. Indien ‘n huweliksvoorwaardekontrak aangegaan is, moet bewys daarvan gelewer word. Daar is sekere vorms wat dan voltooi moet word. Daar is ook vereistes waaraan die huweliksbevestiger moet voldoen, soos dat twee bevoegde getuies teenwoordig moet wees voordat die burgerlike vennootskap amptelik geregistreer kan word.
Die huweliksbevestiger moet dan ‘n amptelike registrasiesertifikaat uitreik as bewys dat die twee persone ‘n geldige burgerlike vennootskap aangegaan het. Mens kan ook aansoek doen by die departement binnelandse sake vir die uitreiking van ‘n sertifikaat teen betaling van ‘n sekere fooi.
Om ‘n geregistreerde burgerlike vennootskap te beëindig moet die partye by die hof aansoek doen om die verbintenis te ontbind en dieselfde kwessies as dié in ‘n egskeiding word aangespreek. Die vennootskap beëindig outomaties met die afsterwe van een van die vennote.
Die vennote geniet dal al die voordele van gades onder die amptelike huwelikswet en in alle ander Wette waar daar na gades verwys word sluit dit dan ook die vennote in ‘n geregistreerde burgerlike vennootskap in.
(Uitgereik deur Sanlam Trust).