Hoewel Ouma Kleins aamborstig is met, soos haar dokter sê, 'n bietjie water op die longe, het sy nog heelwat te sê. Toe sy onlangs waterpille voorgeskryf is en haar susterskind, Siena Thysse (75), wat met baie geduld na Ouma omsien, ook dieselfde voorskrif kry, wou Ouma van niks weet nie.
"Jy is nog jong! Jy kan nie dieselfde siek as ek het nie," het Ouma voet neergesit en basta met dié pille!
Verlede jaar met Ouma Kleins se 104de verjaarsdag was sy ietwat meer spraaksaam as nou want sy het die afgelope week ongelukkig nie te wel gevoel nie.
Dit vat net 'n rukkie in die geselskap van hierdie waardige dame om te besef daar is 'n rede hoekom hierdie "dierbaarheid self" so lank gespaar is.
"Sagte hande en vel is een ding, ja," het sy verlede jaar tydens 'n onderhoud gesê, "maar dis die sagte hart sonder woede of kwaad of sleg of lelik-praat wat jou jonk hou."
Haar identiteitsdokument bevestig dat sy op 13 November 1909 gebore is hier op Knysna. Sy onthou 'n Knysna uit 'n ander era. Hoe sy as jongmeisie saam met haar ma gewerk het, oor die strandmeer uitgekyk en vreemde skepe sien inkom het. Sy onthou houtkappers, saagmeulens, die gefluit van die daaglikse trein, van olifante en van hardwerkende mense wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Haar drie susters en twee broers is almal al oorlede. Sy het tot twee jaar gelede nog totaal onafhanklik saam met 'n 'jongetjieskleinkind' in Nekkies gewoon. Op 5 Junie verlede jaar het haar susterskind besluit Ouma Kleins kan nie meer so afgeskeep en alleen woon nie en het haar gaan haal om by haar eie gesin in Hornlee te kom intrek.
"Oe, mens moet baie geduld hê om na 'n oumens om te sien maar die Here is 'n Wondervader. My ma het my laat bossiesmedisyne kook toe ek jonk was en mens moet jou talent vashou - al kry ek net vir Ouma sulke twee mondjies vol op 'n slag in, die Vader dra ons deur!" skarrel Ant Siena om Ouma Kleins mooi aan te trek en gemaklik te maak vir haar verjaarsdagbesoek van belangrike gaste.
Ouma Kleins wil hê die burgemeester moet sien sy het 'n nuwe voorskoot aan met bypassende kopdoek waarop wyle Madiba se gesig gedruk is.
"Hy was maar 'n jong mannetjie. Ek is ouer as hy," skerts Ouma.
"Haai, nee Ouma! Hy was 'n groot man wat baie vir ons land gedoen het," slaan Ant Siena haar hande gemaak-geskok oor haar bors.
"Ja, hy het. Maar ek is ouer as hy. En ek is nog hier."
Verlede jaar al het Ouma Kleins gesê sy is haastig om by die Here te wees.
"Dis nie nog vir tydmors nie. Waar ek my asem uitblaas, van daar af sit hulle jou mos in die yskas by die hospitaal en daarna wil ek reguit kerk toe en dan is dit 'straight' een pad huis toe!" klap sy haar hande saam. Haar gesig skyn by dié rein gedagte.

Ouma Lydia 'Kleins' Mqoko toe sy verlede jaar op haar 104de verjaarsdag in haar susterskind, Siena Thyse, se tuin nog breed geglimlag en vol sêgoed was.
ARTIKEL: ANOESCHKA VON MECK, KNYSNA-PLETT HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'