KNYSNA NUUS - ‘n Vrou op pad vanaf Johannesburg na haar nuwe tuiste in Knysna was Maandag in ‘n motorongeluk by Dysselsdorp betrokke en is tans in die hoësorgeenheid van die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai.
Die 33-jarige Zandra Brown het veelvuldige beserings opgedoen toe haar Ford Kuga op 15 Januarie die pad verlaat en gerol het.
Volgens haar man Clive, het huller hierdie naweek vanaf Johannesburg na Knysna verhuis.
Hy het Sondag vooruit gery terwyl sy by ‘n vriendin op Beaufort-Wes oornag het.
Sy was Maandagoggend vanaf Beaufort-Wes na Knysna onderweg toe die ongeluk plaasgevind het.
Volgens Clive het sy vrou vertel dat sy om ‘n draai gekom en ‘n donkiekar voor haar in die pad gesien het.
Sy het vir die donkiekar uitgeswaai en toe gesien daar is twee kinders in die pad.
Sy het gerem en uitgeswaai om die kinders te vermy toe die motor begin rol het.
Volgens hom het Zandra ‘n ernstige hoofbesering opgedoen en is daar bloeding op haar brein.
Sy het ook skouer-, sleutelbeen- en handfrakture en ‘n gekraakte nekwerwel opgedoen.
Sy was aanvanklik in die Oudtshoorn MediClinic opgeneem, maar is onmiddelik na Bay View oorgeplaas.
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'